Boerdery en beeste staan sterk in haar werk
In 2016 het ek vir Pauline Gutter, die merkwaardige olieverfskilder van Winburg in die Vrystaat, by die Everard Read-galery in Rosebank ontmoet. Pauline het haar graad in beeldende kuns voltooi aan die Universiteit van die Vrystaat, waar sy in 2011 met die Helgaard Steyn-prys vir skilder beloon is. In 2012 ontvang sy die Mail & Gaurdian 200 Young South Africans-prys; en in 2013 seëvier sy in die gesaghebbende, jaarlikse Absa L’Atelier-kunskompetisie.
Vele uitstallings later, praat Gerald Eloff met haar terwyl sy in Senegal by die Dakar Biënnale van Kontemporêre Afrika-kuns haar nuwe werk ten toon stel.
Hoe het COVID-19 jou as kunstenaar beïnvloed? Hoe het jy jou werk by mense met geslote uitstalruimtes uitgekry?
Die huidige uitstalling, Primordial is aanvanklik vir September 2020 geskeduleer, wat toe nie gebeur het nie. Dit het my genoop om meer op my boerdery en my groentetuin wat ek self onderhou, te fokus. Die Covid-19 pandemie het my nader aan die natuur gebring deur elke dag te teken en in die proses het daar verdieping binne my as kunstenaar plaasgevind. Dis asof die natuur weer sy geregtelike plek gedurende die pandemie teruggeneem het, en ek het dit in my werk probeer verweef. Die stilte wat die pandemie veroorsaak het, was eintlik tot voordeel van my werk, alhoewel ek nie gedurende daai tyd uitgestal het nie.
Waarmee hou jy jouself sedert 2016 mee besig?
Ek het gedurende Maart 2017 na Serendipity, my kunstenaarsverblyf in Saint Émilion in Frankryk vir twee maande gedoen, waar ek op houtskool portret-tekeninge as medium gefokus het. Dit was ʼn ongelooflike ervaring. In hierdie idilliese Unesco-wêrelderfenisterrein in Bordeaux, het ek ʼn eerstehandse lewenservaring van die mark op Sondae gehad. Die Franse het sterk karakters en ek het daarop gefokus, alhoewel dit soms ʼn uitdaging was, met houtskool as medium. Na my terugkeer na Suid-Afrika, het ek ʼn twee maande lange kunstenaarsverblyf by Entabeni in Knysna gedoen en met baie mense wat deur die verwoestende brande geraak is, gesels. Hier het ek die “vertikale” landskap ondersoek – wat in teenstand was met die Vrystaat se “horisontale” landskap waaraan ek gewoond is. Ek het probeer om die “eindeloosheid” in ʼn vertikale landskap te vind deur met gemengde mediums op papier te werk.
Wat behels jou nuwe uitstalling ten opsigte van temas?
Ek het baie op die natuur gefokus – Ashraf Jamal som dit dalk die beste in sy nuwe boek Strange Cargo op deur na dit as “Animalisties” te verwys. Ek het die tema van sosiale opsluiting ook aangeraak en doelbewus van masking liquid gebruik gemaak (’n waterverf medium), soortgelyk aan Latex. Dit vergeel mettertyd – asof dit die tydperk “merk” sedert die aanvang van die grendel-tydperk – en die blywende impak wat dit op die mensdom het, beklemtoon. Hierdie werk is getiteld Social Confinement. Die koppeling met boerdery en die natuur, veral landskappe, is egter steeds in my werk – beeste as ʼn tema speel ook steeds ʼn integrale rol.
Werk jy tans met ʼn nuwe medium? Of verkies jy steeds handgemaakte olieverf?
Ek werk steeds met tradisionele mediums, wat handgemaakte olieverf en houtskool insluit. Ek gebruik ook tradisionele Gesso en natuurlike pigmente. My fokus bly steeds op “gelaagdheid” en begin meer na ʼn abstrakte “merkagtigheid” en “laagagtigheid” van die werk beweeg. In die afgelope 20 jaar het ek al met video, litografie, interaktiewe-stellasies en tot redelik onlangs, poliuretaan gewerk. Installasiekuns as tema, het ek as onderwerp vir my verhandeling in my vierde jaar op Kovsies gekies.
Baie van jou vorige werke het met jou geboorteplaas Nuwe Orde, naby Winburg geresoneer – en baie van die werke was oor plaasdiere. Dien die Vrystaatgrond steeds as inspirasie?
Beslis. Stap en teken vorm deel van my daaglikse roetine. Om die natuur te verken bly ʼn voorreg. ʼn Sterk familie-struktuur van geloof, die voorreg om jou daaglikse brood te verdien en die liefde vir die grond en die nederige afhanklikheid van die omgewing vorm my basis. Die Vrystaat is baie diep gewortel in my – maar ek is gereed om my vlerke te sprei. Ek het ʼn uitnodiging ontvang om ʼn kunstenaarsverblyf in Arkansas in Amerika te doen, met ʼn groot uitstalling daarna. Ek sien uit om daardie landskap te verken en hoe dit uiteindelik gaan resoneer met my. Om die wêreld te bereis bring verandering, gewaarwording, respek vir ander kulture en maak beslis mens se kop oop vir nuwe perspektiewe.
Dink jy uitstalruimtes (met betrekking tot galerye) sal terugkeer na normaal toe?
Ons wêreld is konstant aan die beweeg en verander. Ek werk steeds met ʼn fisiese medium en die energie van werke kan ʼn mens eintlik net in teenwoordigheid beleef. Baie van die groot versamelaars en kurators het steeds al die pad na Dakar (en Venice Biënnale) gereis om die kuns te besigtig. Indien die bepaalde werk dit verlang, sal ek my fokus vir daardie werk na iets meer spesifiek vir die digitale of interaktiewe medium verskuif.
As deel van jou L’Atelier-prys het jy ses maande by die Cité Internationale des Arts in die Franse hoofstad deurgebring. Daarna is jy deur Francis van der Riet genooi om litograwe in Atelier le Grand Village, sy ateljee in die suide van Frankryk, te maak. Toe het jy saam met Christiaan Diedericks gewerk. Jy werk nou weer saam met hom?
Dit was ʼn baie spesiale oomblik om weer saam met Christiaan te werk. Die feit dat hy so hartlik sy heiligdom in Woodstock in die Kaap vir my geopen het, alhoewel hy eintlik ʼn groot introvert is, was fantasties. Dit was vir my ʼn groot belewenis om agt jaar later die verbreding wat in sy veld plaasgevind het, waar te neem. Veral sy passie en kennis van die drukkuns. Ek het so baie geleer, dit was die eerste keer dat ek met monotype as medium gewerk het, en die drie stukke tans by Durbanville op uitstalling, getuig hiervan.