‘n Busbestuurder by Disney World in die Amerikaanse staat Florida is gearresteer vir ‘n poging om ‘n 15-jarige meisie vir seks te werf. Dit volg nadat die polisie weer toegeslaan het na vroeëre soortgelyke operasies waartydens nog werknemers van die reuse-vermaakpark in hegtenis geneem is.
Polisiebeamptes en adjunkte in Polk County het die busbestuurder gearresteer vir ‘n poging om met die minderjarige meisie seks te hê. Elf ander vermeende kinderjagters is ook in dieselfde operasie aangekeer. Etlike maande tevore is vier Disney-werkers in nog ‘n soortgelyke operasie deur beamptes gearresteer.
Die Polk County Balju se kantoor het Vrydag bekend gemaak dat die 12 verdagtes in hegtenis geneem is tydens ‘n twee weke lange geheime operasie. Hulle staar altesame 49 aanklagte van misdaad in die gesig. Vier van die verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle opgedaag het om mense te ontmoet wat hulle gedink het kinders is, wat hulle “seksueel wou mishandel”, het die balju se kantoor gesê.
Onder diegene wat in hegtenis geneem is, is Zachary Hudson, ‘n 30-jarige busbestuurder by die Walt Disney World Resort in Orlando. Hudson het aanlyn gepraat met ‘n geheime speurder wat hom as ‘n 15-jarige meisie voorgedoen het. Hy het tydens die gesprek gesê “ouderdom is net ‘n nommer” en “het die dinge beskryf wat hy seksueel aan haar wou doen,” volgens adjunkte. Hudson het na bewering ook gesê dat hy “geëerd” sal wees om die meisie se maagdelikheid te neem, en “vir haar ‘n naakfoto van homself gestuur”.
Hy is aangekla van die gebruik van ‘n tweerigting-kommunikasietoestel om ‘n misdryf te pleeg, en van die stuur van materiaal wat skadelik vir ‘n minderjarige is.
“Wat sou ‘n operasie wees – óf ‘n pornografie-ondersoek of ‘roofdier’operasie of mensehandel-operasie – sonder ‘n Disney-werknemer? Ons het altyd ‘n Disney-werknemer,” het Grady Judd, balju van Polk County, aan plaaslike media gesê.
Vier Disney-werknemers, insluitend ‘n lewensredder by die oord, is in Maart in ‘n soortgelyke operasie gearresteer. “Vier arrestasies van hierdie omvang is eenvoudig merkwaardig,” het Judd destyds gesê.
Verlede Augustus is drie Disney-werknemers gearresteer omdat hulle seks wou hê met beamptes wat hulle as kinders tussen 13 en 14 jaar voorgedoen het. Twee van die Disney-personeellede, wat by Disney se Hollywood Studios-temapark gewerk het, is in hegtenis geneem toe hulle by ‘n voorafbepaalde plek opgedaag het en gedink het dat hulle ‘n “drietal” met ‘n 13-jarige meisie sou hê.
Balju Judd het diegene wat in hegtenis geneem is, beskryf as “ongelooflike afwykers” en “nare, nare, nare mense,” en aan verslaggewers gesê “ons kan nie eens die woorde gebruik wat hulle gebruik het nie.”