LUME VAN SCHALKWYK
Alhoewel die droogte al in 2015 kop uitgesteek het en Nelson Mandela Baai in 2019 as ‘n ramp-area verklaar is, staan die ergste droogte in die streek se geskiedenis op die “Stad van Vriendelikheid” se voorstoep.
Daar is vroeër die week bekend gemaak dat “beurtwater” geïmplimenteer gaan word vir Port Elizabeth en omliggende dorpe. Water sal afgesny word van 10:00 soggens tot 16:00 namiddag en boonop sal inwoners moet toustaan by nuut-geinstalleerde openbare krane in die buurte. Nie net is dit ‘n bitter pil om te sluk vir huishoudings nie, maar baie slegte nuus vir plaaslike besighede wat hulle inkomste verloor.
Dít volg ná al die insette om die situasie te beheer, tevergeefs was. Vanaf plakkers in elke hotel-badkamer tot smeek-advertensies op die radio. Van afkondigings in vliegtuie om asseblief water in die provinsie te spaar tot ‘n plakkaat op elke lamppaal, moet die stad nogtans die feite in die gesig staar.
Die nuutste damvlak-lesing dui op ‘n gemiddeld van slegs 12,02% water in al die voerdamme. Kenners kyk na die statistieke en sê dat dag “nul” minder as 11 dae weg is.
Met almal wat vingers wys en met vraagteken oë na mekaar kyk, kan ons nie weghardloop van die feit dat ons opsies opraak nie.
Uit die 285 megaliter wat die Metro in ‘n dag opgebruik, word slegs 173 megaliter in realiteit verbruik.
Dit los ons met 40% van bruikbare water wat gemors word as gevolg van waterlekkasies wat geïgnoreer word, ongemagtigde gebruik, waterdiefstal en onakkurate meterlesings.
Die twee hoofprobleme is as volg:
•Om ‘n program te bewerkstellig wat verouderde infrastruktuur opgradeer.
•Om die gebrek aan kapasiteit vir waterbeplanning en die bestuur van vraag en aanbod in die munisipaliteit aan te spreek.
Verder het ‘n bron bekend gemaak dat daar in die nabye verlede ‘n pyplyn geïnstalleer is in Blou Water Baai, wat toe gestop is omdat die kontrakteur nooit betaal is nie.
Die fokus draai nou uiteindelik na die Nooitgedacht waterskema toe. Die finale fase van die uitbreiding van die skema word nou geïmplimenteer en behoort aan die einde van die jaar voltooi te wees. Met die skema in werking, sal die Baai met ‘n ekstra 210 megaliter per dag gevoer word, wat dalk die langtermyn-uitkoms sal wees.
In dieselfde asem sal daar eers geassosieerde infrastruktuurprobleme uitgesorteer moet word, voor einde Junie. Alhoewel hierdie oplossing blink lyk, is daar steeds die risiko dat daar oor as genoeg water sal wees, maar dat dit nie versprei kan word nie as gevolg van pyplyne en ander infrastruktuur wat nie in stand gehou is nie.
Omdat die pype op die einde van hulle ontwerp-lewe is, is herstel nie meer ‘n opsie nie. Die pype sal vervang moet word.
Die tonnel wat water vanaf die Gariepdam vervoer, was puik in 1976 toe dit geopen is, maar is nou broos en verouderd. Daar is ook honderde boorgate in en rondom Port Elizabeth wat slegs pompe benodig, maar wat is die nut daarvan as die vrot pype die kosbare water in die grond in laat syfer.
Plaaslike inwoners sê dat wanneer ‘n waterlek gerapporteer word, hulle 45 minute op ‘n telefoonlyn wag met geen antwoord nie.
“Hierdie probleem kort al lankal nasionale aandag omdat ons area in 2019 al as ‘n ramp-area verklaar is. Daar is geen rugsteenplan in plek gesit van die regering af nie. Nou is dit te laat.” sê ‘n plaaslike inwoner.