Skip to main content

ISAAC CLOETE

Vier delwers het tragies gesterf nadat ‘n oorlaaide bakkie omgeslaan het.

Die ongeluk het Donderdag op die pad tussen Kleinzee en Port Nolloth in die Noord-Kaap gebeur.

Volgens ingeligtes was die persone by ‘n delwersvergadering met die polisie. Die nuus kom nadat verskeie diggers in Mei-maand gewond is by ‘n De Beers-myn naby Kleinzee.

Die diggers  het toe sonder permitte gaan delf, maar met die sekuriteitsbeamptes van die myn slaags geraak. Tydens die konfrontasie het twee hul lewens verloor. Een digger het toe vanaf ‘n oop bakkie geval tydens skermutselinge met die myn se sekuriteitbeamptes. Die ander digger is vermoedelik doodgeskiet deur die sekuriteitsbeamptes.

Volgens bronne was daar meer as 20 persone op die oop bakkie toe dit Donderdag op die grondpad tussen Kleinzee en Port Nolloth omgeslaan het. Die diggers was terug, huiswaarts se rigting, op pad na Port Nolloth.

Verskeie persone is ernstig beseer en vier het op die toneel gesterf. Die ernstige beseerdes is na die hospitaal op Port Nolloth gebring.

Cyril Warne,‘n raadslid van die Patriotic Alliance, het die voorval betreur en gesê: “Hulle was ongeveer 25 mense op die bakkie. Dit was ‘n Ford Ranger-bakkie. Vier is dood en 15 beseer.”

Teen druktyd was die name van die oorledenes nog nie bekend nie, omdat hulle waarskynlik buitelandse burgers van Lesotho was.

Intussen het verskeie inwoners van Zimbabwe by Die Waarheid se verslaggewer navraag gedoen oor die name van die oorledenes.

Volgens hulle “delf” van hulle families ook in Namakwaland. Hulle is dus bekommerd dat die oorledenes dalk familielede kan wees.

Volgens raadslid Dawid Markus was baie van die mense op die bakkie by ‘n vergadering by Bontekoe wat hy help organiseer het.

“Die Ford Ranger-bakkie was oorlaai omdat die sekuriteitsbeamptes tydens die Mei-konfrontasie baie voertuie van die diggers afgevat, vernietig of beskadig het. Hulle wou dus weet wat hulle te doen staan om hul voertuie terug te kry. Of hoe om skadevergoeding van die sekuriteitsbeamptes te verhaal.”

Intussen het kapt. Gaob Paul Swartbooi namens die Bonderswarts Nama Tradisionele Owerheid (BNTA) herhaal dat kleinskaal-delwery nou meer ooit as tevore gewettig moet word.

“Namaland se mense moet kan deel in die rykdom van hul voorouers se grond, dan sal sulke tipe tragedies nie gebeur nie.”

Volgens die polisie-woordvoerder, kapt. Olebogeng Tawana, ondersoek die polisie ‘n klagte van manslag.

“Die bestuurder van die bakkie is op die toneel gearresteer en behoort binnekort in die hof op Port Nolloth te verskyn. Die voorval word tans ondersoek.”

One Comment

  • Kobus Van Staden says:

    Twee probleme. Die voertuie wat afgevat is en die regering se nie-onderhoud aan die paaie. Daardie paaie is in so ‘n swak toestand, dat dit ‘n wonder is dat daar nie meer mense sterf op daardie paaie nie.

Leave a Reply