Skip to main content

GEORGE APRIL

Die strandoord in Laaiplek word glo ‘n al groter nagmerrie vir dagbesoekers omdat toegang daartoe al moeiliker word.

Skynbaar veroorsaak gronderosie en die toestand van ander toegangspaaie na die strand dat besoekers rooi sien. Benewens toegangsprobleme na die strand wat baie moeilik is, lyk die Pelikaan Dagoord soos ‘n murasie.  Bierbottels is die bewys dat dit rof gaan daar oor naweke.

Die Waarheid het met ‘n werker van die Bergrivier Munisipaliteit gesels, wat by die vervalle strandoord besig was. Die werker wat gevra het om anoniem te bly, het getuig van die kopsere vir besoekers.

“Toegang na die strand word om verskeie redes al moeiliker, veral met oop vakansieseisoene. Die see is stadig besig om sy plek in te neem, met die erosie wat ooglopend by die Stywelyne Vakansieoord sy gang gaan.”

Boonop  lyk die Pelikaan Strandoord regtig vir jare al onooglik. Al wat daar gebeur, is die vetplante en grasperk wat die werkers groen hou,” het die werker vertel.

Daar is sandsakke voor die Sunset Villas Strandoord gepak, en Die Waarheid-verslaggewer kon duidelik sien waarom. Langs die villas, en voor die grensdraad van Die Stywelyne Vakansieoord,  kan gesien word waar die see besig is om die grond voor die grensdraad weg te kalwe.

Die sandsakke veroorsaak dat mense nie vrylik met hoogwater langs die strand kan stap nie, het die werker bevestig.  “Besoekers moet dan om die Stywelyne Vakansieoord, deur bosse, strand toe stap”.

“Parkering is ‘n nog groter kopseer, met besoekers wat verkieslik in Laaiplek se hoofstraat moet parkeer. Dis omtrent ‘n stap van 4 km na die strand, as jy gelukkig is en naby genoeg ‘n veilige parkering kan kry.”

Die munisipale bestuurder van Bergrivier Munisipaliteit, adv. Hanlie Linde, het gereageer op vrae van Die Waarheid Media.

“Die sandsakke is deur die eienaar van Sunset Villas, langs die Stywelyne Strandoord, gepak, ingevolge omgewingsgoedkeuring vanaf die Departement van Omgewingsake.

“Pelikaan Strandoord word herontwikkel aan die hand van ‘n plan, wat deur die raad goedgekeur is op 30 Julie 2019 en oor ‘n paar finansiële jare geïmplementeer word. Die meeste van die geboue wat deur die vandale verniel is, is deur die munîsipaliteit afgebreek en die rommel is verwyder. Deel van die plan is om die oorblywende geboue te omskep in ‘n kiosk en publieke toilette.

“Die herbou van die publieke toilette sal gedurende die 2022-2023 finansiële jaar begin. Deel van die ontwikkeling is ook die vestiging van die parkeerterrein wat beoog word binne die goedgekeurde befondsing van die raad.

“Fase 1 en 2 van hierdie projek, wat die vestiging van plante, bome en besproeiing insluit, is reeds voltooi tot die bevrediging van die gemeenskap.

“Tydens die proses vir publieke deelname in Velddrif  op April 2022 waar die IDP en die begroting gekommunikeer was, het die gemeenskap hulle waardering uitgespreek met die vordering van die projek.

“Vandalisme en diefstal van munisipale eiendom bly egter ‘n groot kopseer vir ons. Ons vra weer dat enige lid van die publiek met inligting hieroor na vore kom.”

Leave a Reply