Die wêreld se 500 rykste mense het sedert begin vanjaar ‘n kumulatiewe $1.4 triljoen verloor, volgens Bloomberg se “Billionaires Index”.
Volgens berekeninge is die wêreld se rykstes net na Maandag alleen nagnoeg $206 miljard armer.
Changpeng Zhao, die stigter van die wêreld se grootste kripto-geldeenheid-beurs Binance, het die grootste verliese vanjaar gely, met sy fortuin wat sedert die begin van 2022 met $85,6 miljard tot $10,2 miljard gekrimp het.
Elon Musk, stigter van Tesla en Space X, het in terme van geldverliese, die tweede slegste vanjaar gevaar en moes totsiens sê aan ‘n allemintige $73,2 miljard.
Amazon-stigter Jeff Bezos het $65,3 miljard verloor, terwyl Meta-eienaar Mark Zuckerberg se rykdom met $64,4 miljard gekrimp het.
Bernard Arnault, die groephoof van Louis Vuitton Moet Hennessy, moes ook toekyk hoe hy tot dusver vanjaar $56,8 miljard verloor het.
Die koffers van Russiese miljardêrs het nie sulke groot verliese gely nie, maar hul fortuine het nietemin ook vanjaar gedaal.
Leonid Mikhelson, die hoof van NOVATEK, het $7,29 miljard en Alexei Mordashov, die eienaar van Severstal, $7,4 miljard verloor. Die rykdom van die voormalige eienaar van Chelsea Football Club, Roman Abramovich, het met $5,85 miljard gedaal, skat Bloomberg.
Ontleders het verslegtende ekonomiese toestande vir die rykes se dalende fortuine geblameer, aangesien stygende inflasie en rentekoersverhogings die finansiële markte steeds skud.