Skip to main content

Nuwe studies gee groot hoop

Wyl kenners vinnig sê nog studies oor die gebruik van KBD- (kannabidiol) produkte vir die behandeling van post-Covid-19-simptome en -uitputting moet gedoen word, word  die positiewe uitwerking van KBD-produkte op dié toestande reeds gesien. Daai een vriend van jou wat dus beweer dat dagga vir elke ding onder die son kan help, het in dié geval dalk net iets beet. Maar voordat jy jou twak nader trek, lees eers verder, skryf Gerald Eloff.

Nie nét meer vir hippies nie

Kannabis is lankal nie meer ’n produk waarteen jou ouers jou gewaarsku het en wat net hippies gebruik nie. Soos navorsing oor kannabis se terapeutiese waarde groei, so het die publiek se gebruik van kannabis-produkte toegeneem. Kannabis-produkte soos KBD en THK (tetrahidrokannabinol) is gewild vanweë hul ekstensiewe terapeutiese voordele en omdat dit so maklik toegedien word. Met mediese voordele soos pynverligting, angsverligting en verminderde inflammasie, is dit geen wonder dat kannabis-produkte so populêr is nie …

Skepties, maar desperaat

Andrew Vass, ’n Britse burger van Londen, het vir ’n jaar lank met die newe-effekte van Covid-19 gesukkel voordat sy dokter kannabis voorgeskryf het. Spesifiek, medisinale kannabis wat vyf persent KBD en 0.2% THK bevat.

Vass het nog net twee keer in sy lewe kannabis gebruik en albei kere het hy verskriklike hoofpyne gekry. Hy was skepties, maar desperaat.

“Ek het dit nog nooit as behandeling oorweeg nie. Nadat ek en die dokter dit verskeie kere bespreek het, het ek ingegee.”

Hy beskryf dit as lewensveranderend. Vass is een van die eerste mense in Britanje wat aan ’n kliniese studie deelgeneem het wat die voordele van kannabis ondersoek vir die behandeling van post-akute simptome van Covid-19. Dit is een van vele studies wat poog om die effek wat kannabis het op die virus te verstaan, hoewel behoorlike bewyse nog kortkom.

Die meganisme van lang-Covid, wat bykans 10 tot 30% van mense wat dit gehad het affekteer, is steeds onbekend. Die simptome sluit kortasem, konstante moegheid, spierswakheid, koors en kognitiewe disfunksie in. Diegene wat dié simptome het vir langer as 12 weke ná Covid-19, word beskou as iemand wat aan lang-Covid-19 ly.

’n Druppel onder die tong

Vass het ’n maand nadat hy Covid-19 gehad het, met asemhalingsprobleme en slaaploosheid begin sukkel. Toe volg die sooibrand en asma-aanvalle. Al sy simptome het tot in Desember in 2020 aangehou, toe hy met dokter Anjali Didi in kontak gekom het. Hy het toe die kannabis-behandeling voorgestel.

Elke aand voordat hy gaan slaap, trek hy 0.1 milliliter kannabis-olie op in ’n inspuiting en plaas dit onder sy tong. Binne 30 minute is hy aan die slaap. “Ek gebruik nou niks ander medikasie nie, behalwe iets vir my sooibrand,” sê Vass. Hy is van plan om voort te gaan om dit te gebruik.

Brittanje se regulerende agentskap vir medisyne en gesondheidsorgprodukte (MHRA) het een van die wêreld se eerste wetenskaplike studies – wat die toets van kannabis op pasiënte wat aan post-Covid-19-simptome ly – in Januarie 2022 goedgekeur. Dié wat deur die nieregeringsorganisasie Drug Science gelei word, sal vir ses maande duur en betrek 30 deelnemers wat aan lang-Covid-19 ly.

Elke deelnemer sal daaglikse dosisse van ’n nie-psigoaktiewe kannabis-olie MediCabilis ontvang, wat deur die maatskappy BOD Australia vervaardig word. Daar word van deelnemers verwag om daagliks verslag te doen, waarna die data dan geanaliseer sal word. Indien die resultate goed lyk, sal die studie vergroot en meer deelnemers betrek word.

“Ons het nodig om lang-Covid aan te spreek,” sê David Badcock, uitvoerende hoof van Drug Science. “Navorsing sal ons wys wat die mees doeltreffende opsies is, wat kannabis insluit. Hoewel kannabis wettig in Brittanje is, word dit steeds misverstaan en omtrent nooit voorgeskryf nie.”

Gedurende Januarie 2022, is twee studies – een by die Universiteit van Oregon, die ander by die Universiteit van Chicago – gedoen. Hoewel nie een van die studies mense as deelnemers gehad nie, is bevind dat kannabis-suur (vanaf die plant) kan verhoed dat mense die virus opdoen.

Nog studies kom

MediCabilis is nie die enigste produk wat ondersoek word nie. Gedurende November 2021, het die hartinstituut van die São Paulo Universiteit se mediese skool aangekondig dat hulle ’n kliniese studie op mediese kannabis as behandeling vir lang-Covid-19 doen. ’n Farmaseutiese KBD-ekstrak van die maatskappy Verdemd sal ondersoek word.

“Gebaseer op epidemiologiese data, wil dit lyk of lang-Covid die volgende ramp gaan wees wat openbare gesondheid betref,” beweer dr. Edimar Bocchi, wat aan stuur van die studie is. Hy ag die studie as baie belangrik, aangesien KBD nog nooit vir dié doeleindes getoets is nie.

Dr. Elizabeth Iveson, ’n neuro-rehabilitasiekonsultant by die STEPS-rehabilitasiesentrum in Sheffield en hoofondersoeker by die UV studie, deel Bocchi se bekommernis oor lang-Covid-19. Sy beweer dat sy “meer en meer pasiënte sien wat negatief geraak word deur die newe-effekte van die toestand” – individue wat eens fiks en gesond was (soos Vass), wat nou aan moegheid en angs ly. Uit haar ondervinding beweer sy dat “die voorskryf van medisinale kannabis vir pasiënte met siektes wat veelvoudige liggaamstelsels affekteer, in die verlede al vrugte afgewerp het. Daar is beslis ’n moontlikheid dat dit vir pasiënte met lang-Covid-19 kan werk.”

Maar wag eers …

Dit is nie te sê dat as jy ’n aaptwakkie gaan rook dat jy gesond gaan word nie – ook nie dat jy die siekte in die eerste plek nie gaan kry nie. Sekere kannabis-behandeling mag dalk help – maar soos ’n artikel uit Psycology Today uitwys, “baie meer navorsing moet nog gedoen word om die effektiwiteit van dié produkte te bewys”. Daar is nog ’n lang pad om te stap, maar hoop is daar beslis. En onthou: Wees verantwoordelik – gaan praat eers met jou dokter …

Leave a Reply