Skip to main content

Onwettige dwelmvervaardiging skiet regoor Europa die hoogte in, volgens die Europese Moniteringsentrum vir Dwelms en Dwelmverslawing (EMCDDA).

Die sentrum het Dinsdag in ‘n verslag onthul dat sowat 52 nuwe psigo-aktiewe stowwe in 2021 ontdek is.

“Gevestigde dwelms was nog nooit so toeganklik nie, en kragtige nuwe stowwe kom steeds na vore … almal kan hierdeur geraak word, hetsy direk of indirek,” het Alexis Goosdeel, direkteur van die EMCDDA, verduidelik.

Onder die nuwe dwelms wat uit Europese dwelmlaboratoriums kom, is amfetamiene en metamfetamiene, sintetiese opioïede en sintetiese cannabinoïede, volgens die verslag.

Sowat 350 dwelmproduksiegeriewe is in 2020 gevind en vernietig, hoofsaaklik in Nederland en België, en ‘n rekord van 213 ton kokaïen is in die EU gekonfiskeer, het die agentskap bekend gemaak.

In die Oekraïne sal die konflik waarskynlik tot nuwe smokkelroetes lei, aangesien handelaars poog om “gebiede met ‘n verhoogde sekuriteitsteenwoordigheid te vermy”, volgens die agentskap. Die groeiende “ekonomiese en humanitêre krisis” in Afganistan sal waarskynlik bydra tot ‘n toename in produksie en handel in onwettige dwelms, veral die opiumpapawers en meth-voorloper ephedra wat reeds in aansienlike volumes daar verbou word.

Die EMCDDA is in Portugal gevestig, wat die persoonlike gebruik en besit van voorheen onwettige dwelms in 2001 gedekriminaliseer het (dis eerder as ‘n administratiewe oortreding behandel). Dit het gelei tot ‘n daling in oordosis-syfers en ander skadeverwante maatstawwe.

Onder ander Europese lande, het die Tsjeggiese Republiek, Nederland en Switserland die besit van dwelms vir persoonlike gebruik gedekriminaliseer. Duitsland beweeg na die wettiging van die verkoop van dagga vir ontspanningsdoeleindes.

Leave a Reply

error: Content is protected !!