Byron Minnie – Tienduisend keer
Die sanger Byron Minnie het pas sy nuutste enkelsnit Tienduisend keer uitgereik. Met dié snit wil hy sê “dat die liefde nog nooit verkeerd was nie.”
Byron, wat al twee vollengte albums die lig laat sien het, is dalk steeds ’n groentjie in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, maar sy loslitlekker-optredes en sy sterk basstem is al net so bekend in die Wes-Kaap soos die Outeniqua-pas en Victoriabaai se branders …
Hy het ook al saam met bekende sangers soos Jakkie Louw, Francois van Coke en Juan Boucher die verhoog gedeel en hy staan nie ’n musikale tree agteruit vir dié gewilde kunstenaars nie.
Tienduisend keer, wat ook een van Byron se eie kreatiewe penpogings is, is ‘n warm, blitsige popliedjie, met heerlike borrelgom-en-somerson-lirieke wat luisteraars beslis aan die dans gaan kry.
Dié snit is ook die resultaat van sy ervaringe in sy loopbaan in die kos-en kuierkroegbedryf. Hy werk al ’n hele aantal jare as onder meer bestuurder en geleentheidsorganiseerder by kroeë en kuierrestaurante in die Wes-Kaap. Hy meens dis ook die rede waarom hy die hart en siel van die vermaakbedryf verstaan. Hy weet wat die publiek en sy teikenmark wil hê en dis ook waarom sy snitte so gewild is.
Tienduisend keer het sedert dit uitgereik is, al honderde unieke Facebook-klieks gekry en sy ondersteuners se kommentaar wissel van “die song is amazing” en “nou gaan ons lekker dans”.
Byron, wat in Oudtshoorn grootgeword het, het klankingenieurswese studeer, maar hy het nooit gedink dat hy self agter die mikrofoon gaan beland nie. “Ek het op skool al ’n bietjie gesing en ’n paar liedjies geskryf, maar nadat my vriende en familie my aangemoedig het, het ek op die verhoog beland en begin sing,” vertel hy. “Ek het nie ’n gunsteling musiekgenre nie. Ek hou van alle soort musiek.”
Nadat hy die musiekbedryf betree het, het sy eerste album B-Minor in 2018 verskyn. Die album het net oorspronklike liedjies bevat. “Ek het na die vrystelling van my eerste album skouer aan die wiel gesit en ook begin om aan my tweede album te werk,” vertel hy. Hy het ook sedertdien ’n hele paar oorspronklike enkelsnitte uitgereik wat goed deur die publiek en plaaslike radiostasies ontvang is.
Tienduisend keer is ‘n radiovriendelike popliedjie wat by jonk en oud sal byval vind. Byron se stem kan sommer ’n Gouda-kaas-bas genoem word en daarom is die popgenre ook pasknap vir sy stem.
Darryl de Lange het die snit vervaardig en tegnies versorg.