CORLIA KRUGER
Dit was ‘n padslagting toe15 mense dood en 37 beseer is nadat ’n bus en vragmotor kop-aan-kop gebots het in Rosslyn, noord van Pretoria.
Die gru-ongeluk het vroeg Vrydag omstreeks 05:05 op die M17-pad in Patryshoek, naby die Bundu Inn-oord plaasgevind.
Nooddienste wat op die toneel aangekom het, het ‘n bus en vragmotor gevind wat kop-aan-kop gebots het. Verskeie mense het oraloor rondgelê, wyl ander nog in die voertuie vasgekeer was.
Tshwane Metro se brandweerdiens, Gautengse mediese nooddienste en private ambulansdienste het onmiddellik met die behandeling en bevryding van die vasgekeerde beseerdes gehelp.
Paramedici het 15 pasiënte op die toneel dood verklaar, terwyl 37 pasiënte na die Dr George Mukhari-, Steve Biko- en Kalafong-hospitaal vervoer is.
Volgens ‘n woordvoerder van Tshwane se nooddienstedepartement, Charles Mabaso is daar onder die 15 oorledenes tien vroue en vyf mans.
“Na verdere ondersoek is gevind dat nog 26 pasiënte geringe tot matige beserings opgedoen het, vier matig tot kritiek beseer is en sewe is in kritieke toestand na verskeie hospitale gehaas,” het Mabaso gesê.
Die M17-pad was nog tot 11:00 nog tussen die N4 op- en afrit en die K8-pad in Rosslyn gesluit.
“Die MMC vir gemeenskapsveiligheid en nooddienste, wetgewer Theunissen Grandi, het kennis geneem van die noodlottige ongeluk. Hy het sy opregte meegevoel betuig aan die families van diegene wat hul lewens verloor het en die beseeders spoedige herstelle toegewens,” het Mabaso bygevoeg.
Die oorsaak van die ongeluk sal as deel van ’n polisieondersoek vasgestel word.