Skip to main content

Wildekus slyp twee rakonteurreuse

Plek en tyd kleur die kombers waarmee legendes reis. Die Transkei se ongerepte juweel Port St. Johns is verweef in die loopbane en lewens van twee enigmatiese tydgenote in die Suid-Afrikaanse vermaakkuns. Gelief, ook onder Afrikaanssprekendes, bly net bosreus Ben Dekker nou nȧ die dood van radioreus John Berks oor. Sonnette Lombaard berig.

Boheems en beeldskoon, is Port St. Johns deel van die weergalose Wildekus. Die kusdorp en soutwater-hengelmekka se wille waters is besaai met dapper skeepswrakke wat oor eeue langs die ongetemde kusstrook, omring met diep klowe en steil kranse, vasgeval het. Die landkontoere word inheems gevul deur kleurryke karakters, soos die statige Pondo-vroue wat aan hul lang houtpype paf en pa August en later sy seun July wat ons oor dekades daagliks in hul groot kanoe oor die magtige Umzimvuburivier dorp toe moes roei.

Port St. Johns is pure paradyskontrei wat deur dekades legendestatus verwerf het. Onder die ewe eksotiese inwoners het John Berks en Ben Dekker eens getel. Die twee vermaaktydgenote was bekende inwoners gedurende die vakansiemekka se bloeifases, wat sedert die laat 1960s in tussenposes geskied, met die goue jare tussen 1970 en 2000.

Geleȅ waar die Umzimvuburivier van 220km skouspelagtig in die Indiese oseaan uitklots, is die dorpie vernoem na ‘n Portugese skip wat daar naby gestrand het. Feite en fiksie hieroor verskil maar vervaag wanneer jy van mistige legendes aanmekaar gelas is. Die kloof waardeur die breȅ rivier – ‘n bruin, omgekrapte monster as dit in reȅnseisoen op spoed afdruis – tot by uitmonding kronkel, is “Gates of St. John” gedoop. Weerskantig toring twee majestieuse sandsteengebergtes: Mount Thesiger (342m) en Mount Sullivan (304m), vernoem na ‘n duo Britse offisiere.

Die einste Thesiger-piek was eens landingstrook vir kleiner vliegtuie en is al met die aankoms van sir Roger Moore en Lee Marvin vereer. Die supersterre het Shout at the Devil na Wilbur Smith se trefferboek op Port St. Johns geskiet. Hulle en hul geliefdes het in 1975 vir ‘n paar maande vir verfilming van die oorlogfliek daar gewoon. Vir ons gelukkiges wat toe saam met ons gesinne jaarliks op Port St. Johns kon uitspan, het Hollywood op die agterstoep kom kuier! Ons het ons nog lank verluister en verkyk aan die locals se stories en getekende muutfoto’s van die sterre wat dan in dieselfde grasdak-huise as ons saans skoene uitgeskop het!

Die Britse fliek in 1976 uitgereik, was ‘n lokettreffer. In dieselfde jaar is die Afrikaanse fliek Hank, Hennery en Vriend met Rod Alexander, Lieb Bester en Sybel Coetzee ook op Port St. Johns geskiet. ‘n Paar maande later het die poppe in Pondoland anders begin dans. Op 26 Oktober 1976, het die Transkei as deel van die omstrede tuislandbeleid onafhanklik geword en Port St. Johns sou die hawe, weliswaar skeeploos, van die Republiek van die Transkei huisves. Dit het ‘n nuwe fase ingelui, tot in 1994 toe dieTranskei ontbind en meer agterguitgang gevolg het.

Nie dat menslike bȏggerops ‘n magiese plek soos Port St. Johns se bekoring kon beduiwel nie – nȧ 1976 het ons immers oor ‘n deftige koppie tee aan die lippe gehang van Mrs. Mathanzima wat as “the very first, First Lady of the Transkei” (haar eie woorde) saam met haar Kaiser die Reagens in die Withuis besoek het. Die oudstaatsvrou was toe landlady van die  Agate Terrace-vakansieoord op Eerstestrand.

Vrese dat politieke aspirasies ons geliefde vakansieplek sou uitwis, het verdwyn en Port St. Johns het as vookeur-vakansiestemming deur die 1970s tot die eeu se draai bly skitter. ‘n Mengsel mense het saam in vakansietyd daar laer getrek: Afrikaanse en Engelstalige gesinne, verlig én verkramp en van oraloor, het in hippieland gemaklik hande gevat, bloot bewus van die gedeelde voorreg om Port St. Johns tweede tuiste te noem. Hartseer moes ons ook saam die agteruitgang gadeslaan. Die dorp se inwoners was deel van die eiesoortige Transkei-betowering.

Ideale geboorteplek dus vir ‘n nuwe onafhanklike radiostasie, wat boonop die weg gebaan het vir ‘n radio-rewolusie wat Suid-Afrika teen die 1980s sou tref. Teen die einde van 1960s het Capital Radio 604 vanuit die statige koloniale wit huis teen die berghang in Port St Johns se dorpie begin uitsaai. Dit was draadloos-delight soos ons nie geken het nie en  luisteraars is skaamte- en sensuurloos verlei met vars nuus, oulike deuntjies en blink omroepers. John Berks, wat by LM Radio naam gemaak het, het opwinding geruik, en was gou deel van die span. Dit sou hom slyp vir praat-en-musiek-radio wat binne ‘n dekade lugruimtes nog varser sou annekseer.

Die Wildekusdraai was ‘n ver pad vir ‘n Joodse boykie met ‘n nederige herkoms. Wie se ruim verbeelding, musiekliefde, humorsin en bekgawe  ryk baljaar het. As meester van die mikrofoon het hy álle ore, van Alleman tot beroemdes en berugtes betower en luisteraars laat skater.

Berks het in Klerksdorp grootgeword en skool vroeg verlaat. Hy het as junior joernalis aan die OosRand werk gekry en tussendeur herhaaldelik omroeper-oudisies by al wat ‘n radiostasie is, gefaal. Dit het nie sy mikrofoondrome gefnuik nie. In sy eie woorde was radio as die “theatre of the mind” vir sy eie sterk verbeelding onweerstaanbaar en dis waar hy wou wees.

Berks se stemkuns het laat in sy loopbaan tot volle reg gekom toe hy by 702 aangestel is. Die onafhanklike radiostasie het vanaf 1980 die groter Gauteng-gebied bedien. Binne ‘n tydgees oorryp vir verandering en met die slagspreuk In touch, in tune and independent, het 702 se programformule van praat en musiek luisteraars geboul. En terselfdertyd ‘n goue era vir ontbytradio gelanseer. Berksie se oggendskommel van praat, musiek en humor word steeds gevolg. As meester-poetsbakker het hy talle bekendes, insluitende hotelmagnaat Sol Kerzer en staatsmanne, gebel en geflous. Berks wat ook die Top Twenty-treffersparade begin het, was gou ons hoogsbestaalde radio-persoonlikheid.

Ná ‘n loopbaan van 40 jaar in die radiowese wat laat vlam gevat het en ook by Swazi Music Radio, Springbok Radio en Radio 5 gedraai het, het Berks die mikrofoon gegroet en saam met sy lewensmaat Manda Wessels gereis. Hy is laas naweek op 80-jarige ouderdom nȧ ‘n lang siekbed oorlede. John Berks se kaliber kom nie dikwels verby nie en huldeblyke vir die praatpionier het van oral ingestroom. Sy seun Lance het sy pa as ‘n groter-as-die-lewe mens beskryf wie se sonderlinge nalatenskap as familiemens onvervangbaar is. “Gestroop van alle materialisme kon hy onbevange sy unieke talente deel en met van die armstes tot die rykstes vereenselwig.” Berks is Maandag in die Joodse deel van die Wespark-begraafplaas in Johannesburg ter ruste gele.

Met Berksie se vertrek uit die Transkei was ‘n rysige rysmier in aantog om ook sý eieoortige stempel op Port St. Johns af te druk. Benito Adolfo Dekker het die Wildekus teen 1980 getref. Al 2m van hom. Lank reeds akteur, kaalvoet-ryloper-avonturier en groenaktivis, awergese politikus en eerstespan-moeilikheidmaker, het Ben Dekker in 1982 volksgelief geword vir sy rol as Ghaitshi Ghubi in die TV-reeks Die Vlakte Duskant Hebron (1982). Kort voor lank was die lenige Dekker, net in velletjies geklee en oral kaalvoet aan’t rylope, onmisbaar in Port St. Johns. Hy was deel van die toeriste-aanloklikhede – ‘n strandkroeg naby aan sy boshut op Tweedestrand het Ben’s Bar geheet.

Vir ons was Dekker voortaan deel van vakansielekkertes by die see. Met sy sagte hart vir kinders – hy het talle wesies tydelik versorg – het ons graag by die interessante Baardman-Grotman se boshut gaan inloer. Al het genoeg ouers se hare swyend regop gestaan omdat Dekker se kleurryke voorkeure welbekend was, insluitend min klere en selfgebroude “groentee” uit sy groentetuin. Maar uitspantyd in die Transkei het niė met jukke of preke gejel nie.

Dekker is as seun van Hollandse immigrante nie te ver van Port St. Johns, in die Oos-Kaap gebore. Nȧ skool reis hy as bosbouer en landmeter wyd deur Suid-Afrika. Hy het ‘n graad in filosofie en kuns aan Rhodes verwerf. Sy destydse, omstrede meestersgraadverhandeling oor Bantu-filosfie is deur elke Suid-Afrikaanse universiteit afgekeur. Later as Ikey-student het hy vir KRUIK in talle verhoogstukke gespeel. Sy lewenslange strewe om in die natuur selfversorgend te leef, het tot sy eerste boswoning by Oude Skip naby Sandybaai gelei.

In 1970 pak hy onsuksesvol sir De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party, in die algemene verkiesing in Rondebosch-Oos. Met die slagspreuk “Stem lekker, Stem Dekker” het hy sy veldtog vanuit ‘n geleende vrugtekarretjie bedryf en selfs Graaff vir ‘n swemresies na Robbeneiland uitgedaag.

Dekker is gou as ’n “politieke gevaar” gebrandmerk en sy paspoort is teruggetrek. As vredesgesant van Amnestie Internasionaal kon hy egter deur Afrika reis. In sy kaalvoetstyl waar hy die locals bevriend het lank voor die manne-in-pakke geland het. Die veelsydige man wat ook botaniese kenner is, het twee digbundels gepubliseer, asook ‘n geīllustreerde vertaling van 20 gedigte van Dylan Thomas. Sy romans is onder ‘n skuilnaam in Nigeriȅ gepubliseer.

Dekker was in sy Adams-element op Port St. Johns; al het hy soms met die gereg gebots van geskille oor grondregte in die Transkei tot op heterdaad betrap wyl hy en liefie Loretta Toon danig in ‘n strandmeer geraak het. In 2018 het hy nȧ 38 jaar sy boskaya in die Mthumbane-woud langsTweedestrand verlaat en teruggekeer na Kaapstad waar hy sedertdien in ‘n karavaan in Woodstock woon. Die natuurreus, wat in Oktober 82 word, het al meermale sy versugting uitgespreek om na sy geliefde Port St. Johns terug te keer.

Pondoland se paradys is nie om die draai nie – die motorrit van bykans 900km van die ou Transvaal na Port St Johns was ‘n dagreis ver. Maar kronkel jy eers deur die rollende groen heuwels van die ongetemde landskap en asem die magiese lug in, het rare skoonheid én karakters wie se vrye geeste saam gedy het, jou betoor. Soos John Berks en Ben Dekker wie se reuse-spore hier in ‘n koesterland nestel, waar dit ewig hoort.

Leave a Reply