Skip to main content

ISAAC CLOETE

Die dood van nog twee delwers by ‘n diamantmyn in die Noord-Kaap, ontlok hewige reaksie.

Die tragedie het die naweek te midde van groot geheimhouding by ‘n myn van De Beers by Kleinzee ontvou.

Eers Maandag het die nuus gebreek van die twee delwers se dood. Hulle is vermoedelik deur lede van ‘n sekuriteitsmaatskappy, Vetus Schola, geskiet. Verskeie ander diggers, soos hulle bekend wil staan, is ook gewond. Twee is in die Port Nolloth-hospitaal opgeneem.

Luidens ‘n verklarinig van lt.-kol. Segio Kock het die een voorval Sondagaand om 21:30 plaasgevind. “Die polisie is ontbied na die Port Nolloth-hospitaal, waar ‘n digger opgeneem is. Hy het vroeër noodlottige wonde by die myn opgedoen en gesterf.”

Die tweede digger het Maandag in die vroeë oggendure gesterf. Toe die polisie by die toneel in Kleinzee opdaag, het hulle nog ‘n lyk van ‘n onbekende man sien lê. Die mediese nooddienste (EMS) het hom hier as dood verklaar, volgens Kock.

Blykbaar is sy dood ook te wyte aan die vorige aand se skermutseling tussen die diggers en die sekuriteit van die mynmaatskappy.

Volgens ingeligtes het die een man van ‘n bakkie geval. Hulle het weggejaag toe op die bakkie losgebrand is. Die ander een het gesterf weens die skietery van die sekuriteitsbeamptes.

Volgens raadslid Dawid Markus is dit ‘n jammerte dat die mense so moet sterf net omdat hulle wil eet. Volgens hom is daar nog beseerdes by Bontekoe, wat ook geskiet is. Van hulle is buitelanders wat bang is om behandel te word uit vrees vir optrede deur die owerhede.

“Ons beplan ‘n massa-meeting sommer op Bontekoe. Die polisie en staatsaanklaers moet ‘n slag ook na die tafel kom sodat ons iets kan uitwerk. Hulle het ons gefaal.”

Die bekende en gerekende oud-politikus Marius Fransman het hom sterk uitgespreek teen die geweld. Volgens hom moet die Mensregtekommissie dadelik inspring en dringend alles tde ontlont.

“Die grond behoort aan die KhoiSan-groepe wat beskou word as die eerste inwoners hier. Maar dit is van hulle gesteel.”

Hy glo ook dat die provinsiale en nasionale regerings ‘n soort beraad moet fasiliteer waar alle invloedryke rospelers die grond-ontnemingskwessies van Namakwaland kan aanspreek.

“Namakwalanders, orals in SA en wêreldwyd, moet ‘n slag saamstaan en hulle trotsheid wys as die ware eienaars van dié gebied.”

Volgens stamhoof Paulus Swartbooi van die Namas, ignoreer die regering doelbewus die brutaliteit in Namaland.

“Gemeenskappe hier moet gemobiliseer word sodat Namaland totaal tot stilstand gedwing word. Slegs dit sal daartoe lei dat die regering en die departement van minerale en energiesake die mynhuise tot verantwoording roep vir kriminele dade.”

Hy meen dat die plaaslike inwoners deel moet wees van die rykdom van die grond van hulle voorvaders.

Leave a Reply