Skip to main content

Dis ’n gewraakte oproep wat enigiemand se hartklop sal opstoot. ’n “Polisiebeampte” bel jou. Hy sê ’n vrou – in meeste gevalle ’n sekswerker – het ’n saak van verkragting teen jou gemaak. In die agtergrond hoor jy tweerigtingradio’s wat biep, wat dit nes ’n polisiekantoor laat klink.

Die polisiebeampte, gewoonlik ’n kaptein, sê daar is ’n lasbrief uit vir jou in hegtenisneming en dit skop oor ’n uur of twee in en dan gaan konstabels jou kom haal.

Maar, hulle kan die probleem vir jou oplos. Hulle kan die lasbrief laat “verdwyn” en jy kan buite die hof skik – teen ’n fooi natuurlik.

Renaldo Theron* het derduisende rande só verloor uit vrees dat sy huwelik en reputasie skade sou ly.

“Ek het huweliksprobleme ervaar en een aand ’n sekswerker-webtuiste besoek. Ek het met ’n vrou gesels en haar oor haar fooie gevis, maar koue voete gekry en dit nooit deurgevoer nie.”

Die volgende oggend het ’n ene kapt. Mogale van Pretoria se Sentraal Polisiestasie hom gebel.

“Hy het aan my gevra of ek in kontak was met ’n sekswerker. Ek het yskoud geraak. Toe ek dit erken, het hy gesê die vrou het ’n verkragtingsaak teen my gemaak. Ek het geprotesteer en gesê ek het haar nooit besoek nie, maar hulle het volgehou hulle het bewyse dat ek in kontak met haar was en dat hulle met die dossier sit.

“Dit was baie geloofwaardig. In die agtergrond het mense gepraat. Ek het radio’s gehoor. Ek het regtig gedink hy is ’n polisieman.”

“Kaptein” Mogale het aan hom begin verduidelik dat die saak groot implikasies bvir Renaldo inhou. Sy huwelik kan skipbreuk ly en sy reputasie kan daarmee heen wees – om nie eers te praat van die uitgerekte hofsaak nie.

“Hy het gesê daar is ’n lasbrief uit vir my arrestasie. Dit sou om twee uur daardie middag inskop, maar hulle kan dit vir R5 000 squash.”

Renaldo, ’n pa van twee kinders, het ingegee ter wille van sy huwelik en die geld betaal.

Die dag na die betaling het nog ’n sogenaamde polisiebeampte hom gebel. Hierdie keer was dit ‘n adjudant offisier.“ Hy het my daarvan beskuldig dat ek ’n polisieman gebribe het. Wéér het hy vir geld gevra.”

Die oproep het oor ‘n tydperk van drie maande nie opgehou nie. Elke keer is ’n nuwe storie met nóg ernstiger aantygings gebruik.

Renaldo het ’n persoonlike lening uitgeneem en uiteindelik meer as R100 000 betaal totdat hy ’n privaatondersoeker gaan sien het. Die ondersoeker het die nuus aan hom gebreek dat dit ’n slenter is.

“Ek was briesend. Toe hulle weer bel, het ek in die tuin gaan staan en hulle gevloek. Ek het nooit weer van hulle gehoor nie.”

Volgens Mike Bolhuis, privaatondersoeker, ontvang hulle daaglikse drie tot vyf oproepe van histeriese mans wat sê die polisie wil hulle in die tjoekie gooi.

“Daar is ’n magdom van die slenters. So baie dat ons al vir ’n geruime tyd ’n nasionale projek saam met die polisie het om hulle te ondersoek en vas te trek,” sê Bolhuis.

Hy verduidelik dat hierdie glyjakkalse die nommers van mans kry wat sekswebwerwe besoek en met vroue begin gesels.

“Die vroue voer vir hulle die kontaknommers en al het jy nie die sekswerker besoek nie, kan jy steeds ’n oproep verwag. Dis meer senutergend as jy wel die sekswerker besoek het.”

Volgens Bolhuis is sowat 10% van die sg. polisiemanne in werklikheid regte polisiemanne en daarom klink hulle so oortuigend – hulle weet hoe werk die stelsel en ken die nodige terminologie.

Hy het onlangs ’n saak behartig waar ’n 80-jarige man na hom toe gekom het weens hierdie soort afpersing. “Hy het op die ouderdom van 50 ’n sekswerker besoek en hulle het hom begin afpers. Vir 30 jaar het hy hulle betaal. Die swendelaars het oor die drie dekades meer as R5 miljoen uit hom gekry.”

Bolhuis sê dat indien jy so ’n oproep kry en jy nie by ’n sekswerker gekuier het nie, hoef jy nie te  bekommer nie en kan jy dit ignoreer.

“Hulle raak egter genadeloos en begin selfs vervalste lasbriewe en dossiere vir die slagoffers te stuur. Party daag sommer by jou huis op met ’n lasbrief.

“Dit is dus belangrik om ons, of die polisie te nader as dit met jou gebeur. Al ondersoek ons dit, is ons prioriteit nie om hulle vas te trek nie, maar om die slagoffers te beskerm.

“In werklikheid is hierdie sextortion ’n multimiljoenrand-bedryf. Bly weg van enige seks-webtuistes en jy sal nie moeilikheid kry nie,” is Bolhuis se advies.

Leave a Reply