Vat so! Afrikaans sprei haar vlerke al wyer en hoër, want reis jy deesdae op die gewilde Ierse lugdiens Ryanair na die VK word jou algemene kennis in Afrikaans getoets.
Die toets is in vasvravorm en behels vrae oor Suid-Afrikaanse algemene kennis. Diė besluit van Ryanair laat egter ook wenkbroue lig en sommige Suid-Afrikaners meen dis diskriminasie.
Die BBC berig dat sommige Suid-Afrikaanse passasiers ongelukkig is dat hulle in Afrikaans getoets word. “Afrikaans is net een van die land se 11 amptelike tale en baie Suid-Afrikaners verstaan dit nie. As een van net twee amptelike landstale onder die vorige blanke bedeling, beskou baie Suid-Afrikaners Afrikaans steeds as die onderdrukkingstaal.”
Ryanair skop egter vas en glo die toets wys maklik diegene uit wat op vervalste paspoorte reis. “Weens die hoë voorkoms van vervalste Suid-Afrikaanse paspoorte vereis ons van passasiers met so paspoort om ’n eenvoudige vraelys in Afrikaans te beantwoord.
“Diegene wat nie instaat is om ons vraelys te voltooi nie, sal nie toegelaat word om verder met Ryanair te reis nie en sal ten volle terugbetaal word,” lui die lugdiens se verklaring.
‘n Man wat onlangs van Lanzarote na Londen gevlieg het, was glo verbaas toe Ryanair-personeel sy paspoort en instapkaart afgeneem het voor hy gevra is om die toets in Afrikaans te doen.
Dinesh Joseph het aan die BBC gesê hy was kwaad en het protes aangeteken. “Dis onsensitief om ‘n toets in ‘n taal te moet doen wat met soveel negatiewe emosies verbind word. Om Afrikaans te praat, het niks met Suid-Afrikaner-wees te doen nie.”
Die twis het ook aanlyn oorgespoel waar Ryanair se beleid as onder meer “belaglik” beskryf is.