GEORGE APRIL
Die familie van Reginald Linnert van Hopefield kan eindelik uitsien na geregtigheid nadat hy bykans drie jaar gelede op 34-jarige ouderdom wreed in polisie-aanhouding tot sy einde gekom het.
Linnert is op 17 November 2019 oorlede, nadat hy volgens hofstukke deur twee polisiebeamptes in die aanhoudingselle wreed aangerand was. Linnert was reg oor sy liggaam aangerand.
“Nou, amper drie jaar later, kan die oorledene se familie en geliefdes uiteindelik uitsien na geregtigheid,” vertel Anna Linnert, tannie van die oorledene.
Lizzy Suping, woordvoeder van die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat (Opod), het bevestig dat die twee polisiebeamptes, Nigel Sifile en Theron Phatisiwe, in Maart 2022 uit die polisiediens ontslaan is. Die twee se hofverskyning is geskeduleer vir 31 Augustus 2022 in die Hopefield-hof, het Suping bygevoeg.
Linnert se moord was destyds nie vir inwoners van Hopefield ‘n verrassing nie, omdat Hopefield se polisie gereeld in die nuus vir beweerde brutaliteit is. Wat die oorledene se dood meer skokkend gemaak het, was dat dit nie die eerste keer was dat polisielede hom aangerand het nie, “het Anna Linnert aan Die Waarheid Media vertel.
Die beweerde aanrandings op veral mans, het na die dood van Linnert tot ‘n einde gekom.
Landdros Henry Brown het met die hofsaak die polisie erg geroskam oor sy dood. en gesê: “Die polisie is nie daar om mense aan te rand nie”. Die landdros wat intussen afgetree het, het ook die ondersoekbeamptes in die saak gekruisig vir hul gebrekkige bewyse vir ‘n aanklag van moord.
Die twee polisiebeamptes was aanvanklik vir moord aangekla, maar die klagte het met hul tweede hofverskyning na manslag verander. “Dit is baie gevaarlik om mense van moord aan te kla as jy nie genoeg bewys het nie,” het Brown verduidelik.
In die borgtogaansoek het die verdediging aangevoer dat daar ‘n sameswering teen hul kliënte was, om hulle vir die moord aan te kla.
Brown moes die moordklag na strafbare manslag verander, maar sy uitspraak het die verdediging onkant gevang. Brown het gesê: “Die hof verander dus die moord na manslag, en die hof staan ook nie borg teen nie.”
Die landdros het voortgegaan en gesê: “Volgens ’n forensiese verslag is Linnert se hande agter sy rug geboei tydens sy wrede aanranding. Hy was oral aangerand, sy voorkop, rug, bene, kop … daar was geen plek waar die oorledene nie aangerand was nie. Die hoeveelheid geweld wat in die aanval gebruik is, kan tot sterfte lei,” het Brown aan die hof gesê.
Brown het die wreedheid van die misdaad aangevoer, as redes waarom borgtog nie toegelaat kan word nie. Die twee beskuldigdes sal egter in aanhouding bly totdat die hofsaak klaarmaak,” het hy afgesluit.