Skip to main content

Turksvy na telenovelas verdwyn

Kleinkassiekykers in Suid-Afrika en verder op die vasteland stoom nadat DStv hulle geliefde Turkse sepies, waarvan baie in Afrikaans oorgeklank is, asook drie ander kanale summier verwyder het. Sonnette Lombaard berig.

Die laaste dag van herfs was donkernag in miljoene huishoudings in Suid-Afrika en Afrika nadat die globaalgewilde Turkse sepies op e.tv se kanaal 195 op DStv terstond van die lug gehaal is. Nog drie kanale van e.tv het terselfdertyd verdwyn. Dit spruit uit ‘n bitter geding tussen die eienaars van e.tv en MultiChoice en beskuldigings van boelie-taktieke en professionele jaloesie vlieg sedertdien oor en weer.

Suid-Afrikaans kykers het soos baie ander lande wêreldwyd die laaste paar jaar voor die onweerstaanbare “seepsjarme” uit Turkye geswig met die aanbieding van topvermaak propvol intrige, aksie en romanse uit die Turkse stal, wat eweveel tot Christen- en Moslemkykers spreek. Die reekse is uiters gewild in Uganda en Tanzanië waar pres. Samia Suluhu Hassan een van die grootste fêns van Turkse sepies is.

Grensloos geliefd, was e.tv die voorbok wat gewaag het om die Turkse TV-reekse na Suid-Afrika te bring. Dis op DStv se kanale194 en 195 uitgesaai. Die meeste van die reekse is hier in Afrikaans oorgeklank en het aan honderde plaaslike akteurs en tegnici in Suid-Afrika welkome werk verskaf.

eMedia, eienaar van e.tv, het intussen gereageer nadat MultiChoice laas week “sonder genoegsame waarskuwing” vier van sy kanale vanaf DStv verwyder het. Dit kom nadat die Kompetisie-Tribunaal op 31 Mei teen eMedia beslis het om die vier kanale op MultiChoice se satelliet TV-platform DStv te behou.

“Kykers is in die donker gelaat oor MultiChoice se besluit om direk daarna dadelik eExtra, eMovies, eMovies extra en eToonz te verwyder.” eMedia behou wel twee bestaande kanale op DStv vir e.tv (194) en eNCA (403).

eMedia het hom in April tot die Kompetisie-Tribunaal gewend nadat MultiChoice met hernuwing van sy kanaalverskaffingsooreenkoms geweier het om e.tv verder op die vier kanale te huisves.

Volgens eMedia het die tribunaal geen redes vir sy besluit verskaf nie en het DStv se onmiddellike uitvoering van die besluit geen tyd gebied om die kansellasie tydig aan sy miljoene kykers te kommunikeer nie. Dit was egter toe reeds bekend dat MultiChoice deur kykNET beoog om ook voortaan die hipergewilde Turkse TV-bedryf te betree en in e.tv se gebaande weë wil ploeg met oorgeklankte Afrikaanse reekse uit Turkye. Dis sedertdien bevestig nadat LitNet berig het dat twee splinternuwe oorgeklankte Turkse telenovelas vanaf Julie 2022 op kykNET & kie uitgesaai sal word.

Voorts is dit geen geheim in die TV-bedryf nie dat e.tv se groot sukses met Afrikaanse kykvermaak deur die Turkse reekse ‘n bitterpil vir kykNET was. Kyksyfers wys dat e.tv se oorgeklankte Afrikaanse reekse kykNet & kie se programme ver oortref het.

eMedia sê in sy verklaring “kykers is kwaad en teleurgesteld oor hul gunsteling daaglikse vermaak met die Turkse sepies nie meer op DStv te sien is nie.”

eMedia het onlangs met die bekendstelling van sy jaarresultate bevestig dat eExtra, eMovies Extra, en eReality onder die top 15 satellietkanale in Suid-Afrika tel. Openview en eMedia se kanale op DStv behels 21.9% van MultiChoice se advertensieinkomste. Die verlies aan vier kanale op DStv is ‘n groot terugslag vir eMedia, lui die verklaring.

MultiChoice het tydens die geding bekend gemaak dat hy slegs vir nog elf kanale op sy DStv-platform plek het nadat hy die vier kanale van eMedia daarop gekanselleer het.

Volgens MultiChoice het hulle reeds in Maart te kenne gegee dat hulle die vier kanale gaan kanselleer. In afwagting van die tribunaal se beslissing is besluit om die kanale steeds te dra net tot uitspraak gelewer is.

Suid-Afrikaanse aanhangers van die Turkse telenovelas op kanaal 195 het hul frustrasies oor MultiChoice se “boelie-tegniek” tot sosiale media en veral facebook gewend waar hulle gif spoeg oor die manier waarop hulle deur “big brother” DStv hanteer is.

Daar is egter hoop vir slaafse aanhangers van die oorgeklankte Turkse sepies wat op kanaal 195 gewys het. Dit en die programme van die ander drie DStv-kanale wat gesneuwel het, is op Openview beskikbaar. Openview-dekodeerders het juis die dag na die kanale van DStv verwyder is, met 1000 installerings toegeneem, het e.tv bekend gemaak.

Kykers kan eenmalig ‘n Openview-dekodeerder teen sowat R650 aanskaf. Dit kan saam met DStv gebruik word. Daar is geen maandelingse frooi nie en só kan die Turkse kykpret voortduur. Die gewildste Turkse-reekse kan ook op e.tv se intekenkanaal eVod gestream word.

Die mega Turkse TV-bedryf word wyd as ‘n sosiale fenomeen beskou en kring sedert die 2000s uit. Dit oorrompel die mensdom oraloor en pasgemaakte toere na die reekse se stelle in Turkye is gewild. Die Turkse bedryf is nou naas Hollywood die grootste uitvoerder van TV-reekse. Dit vul die vermaakgaping tussen Hollywood se glansgeneigdheid en Bollywood se oordaadstreep.

Die Turkse tsoenami het Suid-Afrika vier jaar gelede getref en was blitsig ewe gewild hier. Die dramatiese maar “skoon” storielyne sonder eksplisiete seks en krutaal, aansienlike Turke en hul beeldskone land sorg vir top-tuisvermaak. Die Turkse reekse word in meeste lande, ook hier, plaaslik oorgeklank met dikwels ‘n tweedetaal as onderskrif wat dit nog meer toeganklik maak. Sedert die afskop in Oktober 2018, kan e.tv skaars voorbly om nog nuwe reekse in Afrikaans (met Engelse byskrifte) oor te klank. Reekse soos Begeertes, Deur Dik en Dun, Vierspeel/Vuurspel, As die skoen jou pas, Stilleto Vendetta, Dr. Ali, Die Put, Wrede Stad en Fenix is gewilde voorkeurvermaak vir oud en jonk oor alle inkomstegroepe.

Terselfdertyd is dit ‘n inspuiting in ons stram vermaakbedryf en bring ruim werkgeleenthede vir van Afrikaanssprekende akteurs, stemkunstenaars, vertalers tot sinchroniseerders en klanktegni en bied ook opleidingskans aan die jonger geslag.

Marli Schulze, inhoudspesialis by e.tv, erken e.tv het gewaag en gewen met Turkse televisie. Geldgebrek vir die maak van eie peperduur plaaslike produksies het alternatiewe opsies genoodsaak. “Die Turke se klem op familiebande en morele waardes stem ooreen met Afrikaanssprekendes se leefstyl en voorkeure. Die Turkse nasie is ook veelrassig en taal- en geloofverskille word sensitief hanteer.”

Voorts het e.tv van die begin daarop gefokus om met oorklanking álle Afrikaanssprekendes tuis te laat voel met keurige, verteenwoordigende en toeganklike taalgebruik. Verskillende streekdialekte van Afrikaans word gehoor.

Die storielyne wat teen eksotiese agtergronde alle mensfasette belig, maak die reekse ewe gewild by Engelstalige Suid-Afrikaners, waarvan tot 80% swartmense is. Tesame met kunstige stelinkleding en mooi musiek laat dit kykers ontvlug en filosofeer, ook oor hul eie lewens, aldus Schulze. ”Aanhangers se geesdrif spoel daagliks spontaan oor op sosiale mediagroepe.”

Tyd sal leer of kykNET & kie e.tv se hoë standaard kan nadoen, veral met nommerpaskeuses van reekse, asook uitstekende oorklanking in Afrikaans.

One Comment

Leave a Reply