Dink dié prentjie in: op die vloer van ‘n tropiese woud het ‘n skrynwerkermier van die blaredak afgeval en steier dronk met ‘n tak langs.
Haar bewegings is rukkerig en opvallend. Sy beweeg wankelrig vorentoe en kry skielik fel stuiptrekkings sodat sy omval, en hervat dan weer dronkerig die pad. Hierdie is nou ‘n “zombiemier”, en sy het onbewustelik deel geword van die lewensiklus van ‘n parasitiese swam wat algemeen bekend staan as Cordyceps.
Sy sal doelloos vir ure ronddwaal totdat sy lepel in die dak steek nadat sy haar kragtige mandibels om ‘n blaar se aar gesluit het en net so bly staan het.
Twee dae na haar heengaan, begin wit hare tussen haar gewrigte uitgroei, en binne nog ‘n paar dae bedek ‘n dik, bruin mat haar hele liggaam. ’n Pienkerig-wit steel begin dan stelselmatig uit die basis van die mier se kop steek en bly groei. Binne twee weke het die steel twee keer die lengte van die mier se liggaam bereik.
Uiteindelik sal die stingel sy spore in die lug vrystel, gereed om weg te dryf om meer niksvermoedende miere te besmet.
Wat die doel van hierdie swam is, weet nugter alleen. Daar is nog nie veel navorsing hieroor gedoen nie nadat dit vir die eerste keer in 1859 deur Alfred Russell Wallace in Indonesië aangeteken is.
Die swam groei regdeur die liggaamsholte van die mier en gebruik die mier se interne organe as voedsel terwyl die sterk eksoskelet as ‘n soort kapsule dien wat die swam beskerm teen uitdroging, om geëet te word of teen infeksies.
Definitiewe bewyse van “zombie-mier”-gedrag, wat uit ongeveer 48 miljoen jaar gelede dateer, kom van gefossileerde blare. Dit toon die duidelike merke aan weerskante van blaarare wat deur die sluitkaak-mandibels van besmette miere gelaat word.
In hierdie eeu-oue stryd om oorlewing het die miere aanpassings ontwikkel om hulself en hul neste teen swaminfeksies te beskerm. Deur hulself te versorg en mekaar sosiaal skoon te maak, verwyder hulle potensieel skadelike spore voordat hulle die vel kan binnedring. Sommige miere spuit gif in hul neste om as swamdoders op te tree en as dit nie ‘n besmetting stop nie, verdeel hulle neste deur besmette kamers af te seël.
In sommige gevalle word besmette individue deur gesonde werkers uit die nes gedra, en as ‘n laaste uitweg verskuif die hele kolonie en verlaat hul besmette nes.
Hulle is klein insekte, maar daar skort niks met hul oorlewing-strategieë nie!