Die opsienbare hofsaak tussen akteurs Johnny Depp en Amber Heard is iets van die verlede, maar die impak op hulle glansloopbane begin nou eers.
Afrikaanse rolprentliefhebbers stel Depp gelyk aan die nimlike filmkarakter Jack Sparrow in die Pirates of the Caribbean-flieks, en dit is beduidend dat hy juis sy rol in die sesde aflewering van die gewilde fliekreeks verloor het weens sy eks se ernstige aantygings van mishandeling in ‘n koerantartikel.
Depp se agent, Jack Whigham, het tydens die hofsaak getuig hy sou $23 miljoen (R353 miljoen) vir die sesde rolprent verdien het.
En dit is slegs een van verskeie rolle wat Depp, eens Hollywood se geliefde rebelseun, verloor het nadat hy en Heard mekaar in howe begin pak het.
Heard het eweneens gesê dat haar loopbaan erg geraak is deur Depp se bewerings, en beweer sy moes “veg” om haar rol as Mera in die opvolg van die 2018-superheldfilm Aquaman te behou. Sy het ook die afgelope twee jaar slegs in een ander rolprent werk gekry.
Waarnemers is dit eens dat die uitspraak ‘n regsege vir Depp verteenwoordig, selfs al het die hof vir Heard op een van haar teeneise gelyk gegee.
Maar die voormalige glansegpaar het mekaar so erg in die openbaar ten aanskoue van miljoene kykers vuilgesmeer, dat dit onwaarskynlik is dat hulle toekoms as akteurs veel beter vorentoe sal lyk.
Depp dra die afgelope ses jaar die reputasie as ‘n vroueslaner en verslaafde, en vir hom was die saak ‘n poging om sy naam skoon te kry.
Ons het egter al voorheen gesien dat bekende sterre hul Hollywood-loopbaan kan laat herleef na ‘n skandaal. As Mel Gibson en Kevin Spacey rolle in kleiner rolprente en reekse kan kry en weer geleidelik in Hollywood kan groei na skandale, dan kan Johnny Depp ook.
Depp se massiewe openbare steun tydens die hofsaak en sy meer as ‘n dekade-lange baanbrekende loopbaangeskiedenis kan sy aanvraag in die mark vernuwe. Boonop het die uitspraak getoon dat al die opspraakwekkende bewerings deur Amber Heard nie waar is nie, wat ook in sy guns kan tel.
Depp se heil is waarskynlik in die hande van onafhanklike vervaardigers, omdat groot kanonne soos Disney gesteld is op gesinswaardes en silwerkoon reputasies.
Die heel groot rolle en enorme salaristjeks is egter waarskynlik iets van die verlede. Vir eers, in elk geval.
Heard het regdeur haar loopbaan meestal in ondersteunende rolle verskyn, maar haar ster was skielik blinker en haar loopbaan het gefloreer nadat sy met Depp geassosieer is. Sy het die gewraakte koerantartikel juis gepubliseer tydens die vrystelling van haar eerste groot film Aquaman.
Daar is in die hof getuig Amber het probeer roem verwerf “ten koste van Depp”. Tydens die verhoor het Depp getuig dat hy haar gehelp het om ‘n rol in Aquaman te kry. (Heard het dit egter ontken.)
Haar vertolking in Aquaman het niemand juis laat regop sit nie, en hoe haar loopbaan van hier af gaan ontwikkel, sal gesien moet word.