Die jongste bevindinge van RatingsAfrika (RA), ‘n graderingsagentskap, toon dat ses van Suid-Afrika se agt groot metropolitaanse munisipaliteite finansieel onvolhoubaar is en dat kritieke staatsingryping benodig word.
RA hou die finansiële volhoubaarheid van ongeveer 100 plaaslike rade en agt metrorade jaarliks dop en beoordeel dan hul prestasies. Hulle meen omtrent al die munisipaliteite verkeer op die rand van ineenstorting.
Slegs een metroraad, die Wes-Kaap, is die uitsondering en is oor die algemeen finansieel stabiel. Munisipaliteite in Noordwes en die Vrystaat is die vrotste van die lot.
“Die Suid-Afrikaanse munisipale sektor (behalwe die Wes-Kaap) is op die punt om finansieel in duie te stort. Die regering moet dit erken en die nodige stappe begin doen om die land te red,” het die agentskap erklaar.
Munisipaliteite het nie geld om diensverskaffers te betaal en dienste aan inwoners te lewer nie. Vir die jaar tot Junie 2021 het al 108 munisipaliteite wat deur RA nagespoor is, ‘n gesamentlike skuld van R23 miljard gehad, en ‘n opgehoopte tekort van R54 miljard.
RA meen die regering sal moet ingryp om hierdie munisipaliteite aan die gang te hou, maar dit sal tien teen een koste vir belastingbetalers meebring.
Die treurige toestand van Suid-Afrika se munisipaliteite is goed gedokumenteer deur die ouditeur-generaal, en is ‘n groot gesprekspunt onder beleggers, ontleders en ekonome.
Die ouditeur-generaal het vroeër opgemerk dat slegs 28% van munisipaliteite gehalte-finansies vir ouditdoeleindes ingedien het, en net 11% het skoon oudits ontvang. Die Vrystaat en Noordwes provinsies kon nie ‘n enkele skoon oudit bied nie.
Slegs 5% van munisipaliteite is finansieel stabiel en ongeveer 64 is wanfunksioneel weens swak bestuur, institusionele kapasiteit en finansiële bestuur, asook korrupsie en politieke onstabiliteit.
Die verslag beskryf ‘n doodspiraal: Algehele korrupsie en wanbestuur heers by baie munisipaliteite en lei tot ‘n gebrek aan fondse en toenemende swak dienslewering, ‘n Kultuur van nie-betaling van munisipale tariewe en dienstegelde vererger die finansiële agteruitgang van die munisipaliteite en beïnvloed dienslewering verder.
Volgens die finansiëledienstefirma Allan Gray slaag baie munisipaliteite nie daarin om aan die basiese behoeftes van hul kiesers te voldoen nie, insluitend die verskaffing van voldoende toegang tot water, sanitasie, behuising en elektrisiteit.
Gevolglik het geloof in die stelsel weggekalwe, en die risiko van sosiale onrus – soos in Julie 2021 in KwaZulu Natal en dele van Gauteng – is hoog, berig BusinessTech.
“Hoewel die afwaartse neiging in munisipale gesondheid goed in die media gedokumenteer is, is die blote omvang van die verrotting steeds kommerwekkend. Ongekondoneerde, onreëlmatige, ongemagtigde, vrugtelose en verkwistende uitgawes het ‘n allemintige R189 miljard beloop,” het Allan Gray gesê.
Tito Mboweni, die voormalige minister van finansies, het tydens ‘n onlangse PSG-jaarkonferensie ook gewaarsku teen die agteruitgang op plaaslike bestuursvlak. Hy het beklemtoon dat sonder om wanfunksionele munisipaliteite en gevaarlike paaie reg te stel en afhanklikheid van Eskom te verminder, kan Suid-Afrika van betekenisvolle ekonomiese groei vergeet.
Die huidige minister van finansies, Enoch Godongwana, het erken dat die regering bewus is van die verslegtende situasie op plaaslike regeringsvlak, met al hoe meer munisipaliteite wat finansieel in die nood verkeer.
Tydens sy begrotingstem-toespraak in Mei 2022, het hy gesê die Nasionale Tesourie, in vennootskap met Cogta, sal probeer om plaaslike regering se ondersteuningsmeganismes te gebruik om ‘intense’ ingrypings te bewerkstellig.
Dit sal programme insluit om munisipale oudit-uitkomste te verbeter met ‘n spesifieke teiken op diegene met die hoogste vlakke van onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes. Ingryping sal ingevolge Artikel 139(7) van die Grondwet geskied.
“Daar is 43 munisipaliteite wat aan die kriteria vir verpligte ingryping voldoen. Ek het reeds in Oktober verlede jaar aan die premiers van alle provinsies geskryf om hierdie munisipaliteite te identifiseer en te sorg dat die verpligte ingrypingsproses ernstig kan begin,” het hy gesê.
“Munisipaliteite wat terugkeer na finansiële gesondheid sal die lewenskwaliteit van inwoners ‘n hupstoot gee, ekonomiese aktiwiteit en belegging aanmoedig, asook belasting- en belastingbetalings aanmoedig,” het hy bygevoeg.