Skip to main content

Afrikaans se 50 Shades of Gray sluit die klaskamer

Vita du Preez het sommige Afrikaanse tannies in hul tee laat stik met haar gewaagde trilogie – Klaskamer, Skoolgeld en Liefdesles – wat baie meer as die blote romanses is waaraan haar bewonderaars gewoond is. Gerald Eloff het met haar oor haar skryfproses en haar pad deur die Kink-wêreld in dié verhale gesels.

Hoe voel jy noudat jy die trilogie voltooi het?

Ek wil graag sê verlig! Maar dis nie regtig waar nie. Ek raak altyd by my karakters betrokke en bietjie skeidingsangs was daar beslis. Die eerste twee boeke het op cliffhangers geëindig, wat ongewoon is vir dié genre. Wat ek gou besef het, is dat dit nogal ʼn uitdaging is om drie boeke oor net twee karakters (Emma en Daniël) te skryf.

Hoe het jy as skrywer die uitdaging oorkom?

Ek dink die geheim lê daarin om interessante randkarakters te skep. In Klaskamer is daar Irma Rothman (na wie Emma as juffrou Rottenmeier verwys!), sy is ʼn dominatrix wat Daniël se berader op skool was en hom ook aan BDSM voorstel. In die volgende twee boeke – Skoolgeld en Liefdesles – verskyn Daniël se vervreemde vrou Sally weer op die toneel. Haar koms steek dinge op die plaas Omdraai weer aan die brand. Ek het dit geniet om haar karakter te skryf en glo die interaksie tussen haar en die ander karakters het nuwe energie en spanning aan die storie verskaf.

Hoekom het jy besluit om die tema van BDSM in jou boeke aan te pak?

Ek was lus om my hand aan iets nuuts te waag. Ek was net klaar met my Vinkel en Koljander vierluik wat my vier jaar besig gehou het, en toe volg daar ʼn vyfde boek ook. Alle skrywers wens seker vir ʼn topverkoper – ek is nie ʼn Stephen King of ʼn Dan Brown nie – toe dink ek, hoekom nie ʼn 50 Shades of Gray in Afrikaans nie? Skrywers kan Afrikaans relevant hou deur moderne onderwerpe aan te pak. LAPA Uitgewers het ʼn nuwe druknaam (Wenkbrou) beplan, wat op meer gewaagde manuskripte gefokus het, en dit het my oortuig om die swepe en boeie uit te haal. Die res is geskiedenis.

Hoe het jy jou navorsing vir die trilogie gedoen?

Hoofsaaklik op die internet, tydskrifartikels en natuurlik het 50 Shades of Gray as inspirasie gedien. Ek wil wel beklemtoon dat die boeke ontspanningsverhale is en nie ʼn sielkundige verhandeling oor BDSM nie. Ek het wel van kritici uit die Kink-gemeenskap kennis geneem dat ek nie die onderwerp heeltemal verstaan het nie. Ek het geluister en my foute probeer regstel. Met my tweede boek, Skoolgeld, het ʼn kenner op die gebied van BDSM baie gehelp en sodoende het ek in minder slaggate getrap.

Was jou gewone lesers en aanhangers aanvanklik skrikkerig vir wat om te verwag?

Aanvanklik het niemand geweet van my planne nie. Cecilia Brits by LAPA Uitgewers was baie entoesiasties oor die konsep en het my aangemoedig om dit onder die Wenkbrou druknaam uit te gee. Daar was gemengde gevoelens na Klaskamer – sommige lesers het my gelukgewens, ander het gevoel dis nie hulle cup of tea nie. Ek glo egter ek het ʼn paar nuwe lesers bygekry.

Het jy met tye gevoel, van die tonele was dalk bietjie te erg vir die deursnit-liefdesverhaalleser?

Ek was nooit bang om gewaagde liefdestonele in my stories te gebruik nie – ek het wel goeie leiding van my uitgewers by Wenkbrou gekry. Die voorblad, asook die flapteks van Klaskamer het mooi aangedui dat dit nie jou tradisionele liefdesverhaal is nie, so lesers het geweet waarvoor hulle hulself inlaat.

Nou dat jy bietjie met ʼn ander genre geëksperimenteer het, is daar nog genres wat jy sal wil aanpak? Jy het wel ook al ʼn historiese roman geskryf?

Ek is ʼn liefdesverhaal-skrywer en hou van stories met gelukkige eindes. Ek sal dalk eendag weer ʼn historiese roman aanpak, ek bly maar lief vir geskiedenis. Ongeag van die genre, hetsy dit wetenskapfiksie of romanses is, daar sal altyd ʼn liefdesbelangstelling in my stories wees.

Hoe moeilik is dit om erotika, of eerder gewaagde seks soos BDSM in Afrikaans te skryf, sonder om platvloers te klink?

Ek het vir tien jaar Mills & Boon in Afrikaans vertaal, dit was vir my ʼn baie goeie leerskool om erotiese tonele in Afrikaans te skryf. Sekstonele in Afrikaans bly maar ʼn uitdaging want daar is net nie so baie woorde in Afrikaans, soos in Engels, wat jy kan gebruik nie. Dit kan maklik soetsappig klink, asook banaal. Of dit kan onromanties wees, as jy te veel gebruik maak van biologiese terme, soos in Klaskamer, waaroor ek ook baie kritiek ontvang het. Ek hoop maar ek het die balans gevind met die twee ander boeke.

Wat kan ons volgende uit jou pen verwag?

Ek het besluit om weer ʼn mal perd op te saal – ek gaan Klaskamer, Skoolgeld en Liefdesles na Engels vertaal en dit verkoop op Amazon. Ek het reeds Classroom voltooi, en is reg vir plasing. Ek is verjaar gedurende Septembermaand, dan is ek 70 jaar oud. Die slim mense sê mos – op daai ouderdom moet jy nie eers groen piesangs koop nie! So ek kyk maar wat die toekoms inhou. Daar is wel ʼn historiese roman aan die broei.

Was daar enige snaakse, of humoristiese terugvoer wat jy vanaf jou aanhangers oor die trilogie gekry het?

ʼn Resensent het onlangs na Liefdesles verwys as ʼn liefdesverhaal met verskeie stomende tonele wat sommige lesers in hul tee sal laat stik! Deesdae kry ek vriendskapversoeke van mans op Facebook wat beslis nie in my literêre vermoëns belangstel nie. Ek aanvaar nie die versoeke nie maar onlangs het een op my blad ge-post dat hy baie graag met my wil vriende wees omdat ek sulke interesting pictures op my blad plaas. Ek glo nie hy weet dit is boeke nie, en ek is doodseker hy kan nie ʼn woord Afrikaans lees nie!

One Comment

  • Vita du Preez says:

    Baie dankie, Gerald Eloff, vir ‘n lekker onderhoud oor my erotika-drieluik. Ek waardeer die blootstelling. Vita du Preez

Leave a Reply