Skip to main content

‘n Reuse-projek is onderweg waarvolgens al die staatsdepartemente in die komende jaar na ‘n nuwe staatsbeheerde gebied in Gauteng sal verhuis. Dit vorm deel van die binnestad-herlewingsprogram in Tshwane.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het in ‘n onlangse parlementêre V&A-sessie hierop uitgebrei. Sy het bevestig dat die verskuiwing van haar departement en sy entiteite na Salvokop deel van die Tshwane-binnestad-herlewingsprogram is.

Zulu het bygevoeg dat die reuse-projek in fases sal verloop. Daarvolgens sal vyf staatsbeheerde hoofkantore as deel van fase 1 permanent verskuif. Dit sluit in die departemente van Hoër Onderwys en Opleiding, Binnelandse Sake en Korrektiewe Dienste. Die Departement Statistieke Suid-Afrika se hoofkwartier is reeds voltooi.

Die ander departemente wat ‘n nuwe tuiste kry. is die gekonsolideerde hoofkwartier vir die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) en die Nasionale Ontwikkelingsagentskap.

“Die gekonsolideerde Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en Nasionale Ontwikkelingsagentskap se hoofkantoorkampus sal die agentskappe binne ‘n moderne, en pasgemaakte, permanente hookwartier akkommodeer. Dit sal verbeterde dienslewering en doeltreffende bedrywighede meebring,” het Zulu gesê.

“Hierdie projek word gekoördineer deur ‘n publiek-private vennootskap en word deur die Nasionale Tesourie-agentskap en die Regering se Tegniese Adviessentrum bestuur.”

Die konstruksiekoste van die nuwe 524 000 vkm-perseel is in 2019 op R18 miljard beraam, met die eerste fase van die projek wat na verwagting teen die einde van 2022 voltooi sal wees.

Tydens die konstruksiefase sal die projek na verwagting meer as 3 200 werksgeleenthede skep. Die installering van die grootmaatdienste het reeds begin, het Patricia de Lille, minister van openbare werke, in haar begrotingstoespraak vir 2022 onlangs gesê.

Ander beplande ontwikkelings wat deel van die projek is, sluit in:

Voorsiening vir kantoorruimte, en vir residensieël- en kleinhandel-gebruike, asook vir oop ruimtes, skole en gesondheidsorg;

24-uur sekuriteit; en omgewingsvolhoubare en plaaslike inhoudsprioriteit;

Prioritisering van geïntegreerde openbare en nie-gemotoriseerde vervoer.

De Lille sal na verwagting in die komende weke meer besonderhede oor die gebied verskaf, berig BusinessTech.

Leave a Reply