Dwars – rare karakters onder ons deur Daniël Lötter
Dwarstrekkers, non-konformiste, buitestanders, randeiers … Noem hulle wat jy wil, maar Suid-Afrika het genoeg eksentrieke karakters opgelewer wat mense toentertyd na hul asem laat snak of verstom agter hul hand laat fluister het.
Hierdie uitsonderlike mense het hul merk op vele terreine gemaak. Dis hulle wat Daniël Lötter in sy nuwe boek aan ’n nuwe geslag weetgierige en geswore lesers wil bekendstel.
Lötter is ’n boorling van die Bo-Karoo, waar hy van kleinsaf die kuns van stories vertel kon afkyk en by die meesters op dié gebied geleer het.
Hy het ’n makabere belangstelling in misdaad, veral moordsake, maar ook in spoke en ander rare karakters en verskynsels.
Sy debuutbundel kortverhandel, Die grootpad is ’n grondpad, het vroeg in 2020 by Protea Boekhuis verskyn. Sy boeke 17 maal moord (2020), Ware spookverhale van Suid-Afrika (2021) en 14 maal moord (2022) is hoog aangeprys deur resensente en het groot byval by lesers gevind.