Skip to main content

ISAAC CLOETE

Springbok. Inwoners hier is ontstoke oor ‘n bedrieër se ligte vonnis nadat ‘n bedrogspul oopgevlek is.

Michel Rual Abner van Wyk (21) het eergister slegs drie jaar tronkstraf gekry  vir bedrog.  Hy het skuldig gepleit.

Van Wyk se prokureur het versoek dat hy vyf jaar tronkstraf kry wat opgeskort is vir twee jaar. Die hof in Springbok het hom drie jaar direkte tronkstraf opgelê.

Sy vonnis spruit uit ‘n saak wat in September 2021 geopen is, nadat die polisie inligting ontvang het. Die Valke, openbare-orde polisie en teenintelligensie-eenheid het hom vasgetrek in Nababeep, het die Valke se woordvoerder, Nonthandazo Mnisi, gesê.

Luidens getuienis het Van Wyk hom daartydens voorgedoen as ‘n werknemer van die Nama Khoi munisipaliteit (NKM) op Springbok. Hy wou ‘n vals tender van R15 miljoen van NKM aan die eienaar van ‘n bekende vakansieoord in Nababeep verkoop.

Van Wyk wou R100 000 vir die tender hê, met ‘n aanvanklike R10 000 vir “administratiewe koste”. Hy het hom voorgestel as ‘n dokter, maar die eienaar het egter onraad gemerk en die polisie hieroor ingelig.

Die Valke het hierna ‘n lokval  vir Van Wyk gestel. Hulle het ‘n agent gebruik,  wat die geld aan Van Wyk sou oorhandig, in ruil vir die tenderdokumente. Toe hy die tenderdokumente oorhandig en die geld ontvang, is hy gearresteer.

Dit het intussen ook aan die lig gekom dat Van Wyk die ondersoekbeampte, wat ‘n lid van die Valke op Springbok is, Maandag na vonnisoplegging by die hof gedreig het. Voorts het hy die Valke-lid gedreig dat dié se familie op hul hoede moet wees.

Die Valke se provinsiale kantoor in Kimberley beskou die dreigemente in ‘n ernstige lig en sal dit ondersoek, is bevestig.

Inwoners meen dat die straf vir Van Wyk te lig is; al is die bedrogpoging betyds gefnuik. Hulle is van mening dat die staatsaanklaers vir swaarder vonnisse moes betoog. Dit kon meebring dat swaarder vonnis ook oorweeg is.

Volgens Maree “Oeka” April, ‘n voormalige werker by NKM, is dit ‘n baie ligte vonnis. Sy meen boonop dat ander mense ook deel van die bedrogspul moes wees. Sy wonder of  Van Wyk sal uitpraat en nog name gaan noem.

* Van Wyk was in 2021 ook gevonnis vir bedrog en diefstal in Loeriesontein en Williston nadat hy ‘n slinkse motorskema bedryf  het.  Hy het toe ook op die klagtes skuldig gepleit, volgens kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoeder. In beide gevalle is hy gevonnis tot twee jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar.

Leave a Reply