Sphiwe Mngadi (43), ‘n voormalige werknemer van die Passasierspooragentskap van SA (Prasa), is gister in die Scottburgh-streekhof skuldig bevind aan die peuter met en vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur in die Mkhomazi-gebied in April 2018. Hy is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis.
Hy was in besit gevind van 12 rolle koper wat sowat 192 kg weeg en R1 miljoen werd was.
Dit was nie vir die wagte verdag toe Mngadi en nog ‘n persoon naby ‘n spoorlyn opgemerk is nie aangesien hulle in ‘n Prasa-voertuig was.
“Ná 20 minute het die wagte na die terrein teruggekeer en gevind dat die koperkabels verwyder is. Hulle het toe Mngadi genader en hom gevra vir sy magtigingsdokument om die kabels te verwyder,” het Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, gesê.
Mngadi kon nie die nodige dokumentasie toon vir die 12 rolle koperkabels nie.
Die wagte het hul bestuurder gekontak en Mngadi en sy makker is in hegtenis geneem.
Die medepligtige is vrygespreek aangesien hy Mngadi se ondergeskikte was en nie bewus was van korrekte prosedures nie.