Skip to main content

Die departemente belas met polisie, paaie en vervoer is bekommerd oor die feit dat die meerderheid motoriste onbewus is van hoe om te eis vir voertuigskade wat deur slaggate op ons nasionale en provinsiale paaie veroorsaak is.

Om hierdie probleem op te los, het die departement stap-vir-stap verduidelik hoe om só ’n eis aan te teken:

Voordat motoriste hul eise by enige kantoor kan indien, moet hulle seker maak van die presiese plek waar die ongeluk plaasgevind het.

Selfoontegnologie is in so ‘n gevorderde stadium dat enigiemand met ‘n slimfoon hul ligging kan bepaal.

As hierdie tegnologie nie beskikbaar is nie, sal ‘n opgevoede raaiskoot oor die ligging voldoende wees (soos: sowat 5 km suid van Allanridge in die baan wat in ‘n noordelike rigting ry).

Tweedens word motoriste aangeraai om foto’s te neem.

Probeer om foto’s te neem onmiddellik na ‘n slaggat-verwante voorval.

Let op om foto’s van die skade aan die voertuig; die slaggat self en ‘n wye skoot van die pad met die slaggat en omgewing te neem.

Derdens moet motoriste hul eise by die relevante munisipaliteite indien.

Indien die voertuigskade op ‘n nasionale pad soos die N1 of N2, ens. voorgekom het, is dit die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL).

As die voorval op ‘n provinsiale pad gebeur het, kan jy jou eis by die betrokke departement indien.

‘n Lys van kantore in die verskeie provinsies kan  op die departement se webwerf: www.policeroadstransport.gov.za gevind word.

Vir ’n suksesvolle eis, word die volgende benodig:

  • ‘n Beëdigde verklaring met die polisiestasie se stempel daarop.

  • ’n Afskrif van bestuurslisensie van die eiser.

  • Voertuigregistrasiedokumente.

  • ‘n Afskrif van die bestuurder se identiteitsdokument (ID).

  • Foto’s van waar die voertuig beskadig is en van die slaggat.

  • Drie kwotasies van geregistreerde paneelkloppers of faktuur vir die herstelwerk.

  • ‘n Brief van versekering wat aandui dat die eis nie op jou versekering aangemeld is nie, of die beëdigde verklaring wat wys dat jy nie voertuigversekering het nie.

  • ’n Dokter se verslag indien daar enige beserings is.

Alle dokumente moet persoonlik by die naaste padkantoor afgelewer word of per e-pos gestuur word aan: claims.roads@gmail.com.

Alle eise sal beoordeel en verwerk word op grond van inligting wat deur die motoris verskaf is. Eisers moet kennis neem dat die proses ‘n geruime tyd kan neem om afgehandel te word.

Leave a Reply