Skip to main content

Comair het sy kliënte om verskoning gevra nadat hy noodgedwonge alle Kulula- en British Airways-vlugte moes kanselleer.

Volgens die lugrederye had hy geen ander keuse nie aangesien daar nie geld is om die vliegtuie in die lug te hou nie.

In ‘n verklaring het die lugredery gesê: “Die maatskappy se sakereddingspraktisyns (BRP’s) het aangeraai dat ons die proses om die nodige kapitaal in te samel aan die gang kry, en daar is rede om te glo dat sulke befondsing verkry kan word. Sodra dit in plek is, sal die lugdiens bedrywighede kan hervat, maar onder hierdie omstandighede het die praktisyns ongelukkig geen ander keuse as om vrywillig alle geskeduleerde vlugte op te skort totdat die befondsing bevestig is nie.”

Glenn Orsmond, die uitvoerende hoof van Comair, het gesê: “Ons betreur die ongerief wat hierdie skorsing ons kliënte sal veroorsaak. Ons het alles gedoen wat ons kon om dit te vermy. Comair, die BRP’s en die finansierders werk hard om die finansiering in plek te kry sodat ons ons normale vlugskedule so gou moontlik kan hervat.”

Alle Comair kaartjieverkope is met onmiddellike effek opgeskort.

Orsmond was optimisties dat Comair se finansiële probleme binnekort opgelos sou word.

“Comair is inherent ‘n lewensvatbare besigheid. Ons het die twee van die beste lugredery-handelsmerke in die land. Ons is op koers om vanjaar meer as vier miljoen passasiers te vervoer en R5,3 miljard se inkomste te genereer. Ons het uitstekende personeel, ’n moderne vloot, goeie verkoops- en verspreidingskanale en lae bedryfskoste, en daarom glo ons die finansiering sal verseker word.”

Die lugredery het gesê daar sal voorsiening gemaak word vir passasiers wat ‘n volle terugbetaling vir hul kaartjies wil hê, of vir diegene wat die kaartjies wil ‘bank’ vir toekomstige gebruik.

Leave a Reply

error: Content is protected !!