CORLIA VAN DEVENTER
‘n Brandweerman en koördineerder van die Roodeplaat-brandbestrydingsvereniging het die stryd teen ’n dodelike kanker verloor.
Coenraad Louw, meer bekend as Louwtjie onder sy vriende, is Sondag 29 Mei oorlede nadat hy in Maart vanjaar met breinkanker gediagnoseer is.
Louwtjie het vir die afgelope vyf jaar sy gemeenskap noord-oos van Pretoria gedien as deel die brandbestrydings-span, bestaande uit opgeleide vrywilligers.
Milydia Potgieter, ’n lid van die Kameeldrift Trauma Sentrum, sê Louwtjie laat ’n groot leemte agter in beide sy gemeenskap en familie se harte.
Potgieter sê Louwtjie en sy vrou van byna 36 jaar, Stella, was altyd van die eerste brandbestryders op noodtonele.
Die Roodeplaat BBV deel die volgende boodskap:
“Ons as die Roodeplaat BBV en gemeenskap gaan hom baie mis. Hy het groot spore getrap in die tyd wat hy deel was van ons vuurvegters en in die hantering van die brande. Net so het hy diep spore in ons harte gelos.
Ons innige simpatie aan Stella en haar familie. Julle is in ons gebede.”