Augrabies se kokerbome laat haar inspirasie blom
Leanne Olivier se olieverfkunswerke verras die kyker op twee maniere – met die eerste blik is die realisme van haar skilderye tasbaar. Dan, word die kyker uitgeboul met die besef dat die modelle wat sy verf met asstof bedek word. Intussen het sy haar inspirasie elders gaan soek – sy het die stadliggies van Pretoria verruil vir Augrabies in die Noord-Kaap. As ʼn mens kyk na haar nuwe werke, het die ysterklip en kokerbome haar tot nuwe en verfrissende insigte gebring. Gerald Eloff het met haar gesels.
Die lewe in die stad is baie anders as die lewe op die platteland, en soveel meer die afsondering van die Noord-kaap. Wat het jou laat besluit om te skuif? Is dit net tydelik?
Ek het lankal die behoefte gehad om die stad agter my te los. Ek sou aanvanklik in 2020 Spanje toe gaan vir ʼn uitstalling en om dalk daar te bly – maar toe gebeur Covid-19. Ek trek toe egter steeds Riebeeck-Kasteel toe in die Kaap. As gevolg van veiligheidsredes en misdaad (en liefde wat intussen gebeur het!), het ek Augrabies toe verhuis saam met Charl van Wyk (ook bekend as Designbuoy). Aangesien ek enige plek kan werk, was dit nie ʼn moeilike keuse nie. Ek het gevoel, “as die wind my hier wil waai, laat hy my dan waai!” Of dit net tydelik is – ek weet nie. Ek het nog altyd bietjie van ʼn “gypsy spirit” gehad. Ek luister na my liggaam se leidrade. Dié wêreld werk vir my. Dit voed my siel.
Is dit waar dat die stilte van die natuur (weg van die stad) ʼn mense se inspirasie en verbeelding laat vlam vat?
Dit is lekker om wakker te word sonder alarms wat blêr en die terneerdrukkende verkeer. Is dit nie maar wat almal in hul siele verlang nie?
Ek het opgelet dat jy deesdae minder van modelle gebruik maak en veral op diereskelette en beendere fokus. Is daar ʼn rede vir dié besluit?
Nie regtig nie – daar is heelwat werke wat ek nie tentoonstel op sosiale-media nie; die fokus is steeds op modelle. Ek bou tans my nuwe studio en fokus op kleiner werke, soos skedels en oë. In die agtergrond is die modelle steeds daar, ek hou hulle net terug tot die studio voltooi is. Die fokus bly op die mens, en die “human experience.”
Jy het in jou vroeër werke van asmengsel gebruik gemaak om op jou modelle te smeer. Met watter ander stowwe het jy al mee gewerk, en gebruik jy tans iets nuut?
Ek het in die verlede baie geëksperimenteer met ʼn klei-emulsie, ook bekend as klei “slip”. Dit het vir my gegaan oor “going back from where you come from.” Die essensie van waarvandaan ons kom – die grond, die klei. As ek nie mense terug in die aarde kan sit nie, gaan ek die aarde terug in die mense sit – al klink dit hoe vreemd. Die klei het amper gedien as ʼn tweede vel op die modelle, en as dit eers op was, het iets magies gebeur. Die modelle het anders beweeg en opgetree, asof hulle “vry” was.
Baie van jou vorige werke het bestaan uit portretkuns. Is dit steeds ʼn genre wat jy die meeste verkies?
Portretkuns trek my steeds aan, spesifiek die menslike figuur. Die idee van die mens, die interne wêreld van die mens en sy voorkoms, en hoe ek dit kan saamvat, lê my naby aan die hart.
Was kuns jou eerste keuse as studierigting na skool?
Vandat ek agt jaar oud was, het ek besluit die kunste is vir my. Op hoërskool het ek egter nie baie goed met my kunsonderwyser oor die weg gekom nie! Hy het my eintlik afgesit van kuns. Na skool het ek die korporatiewe wêreld aangedurf en dit het my amper dood gemaak. Daai jaar het my laat besef wat ek nié wil doen nie. Ek het toe gaan kuns studeer. Ek was aanvanklik meer akademies as prakties georiënteerd. Ek het toe begin met my meestersgraad, intussen was ek ook ʼn lektor en ek het deeltyds kuns gemaak. Dit was te veel balle om in die lug te hoe en ek moes kies – ek het opgeskop, my werk as lektor opgegee en besluit om voltyds kunstenaar te wees. Dis ʼn besluit waaroor ek tot vandag toe nie spyt is nie.
Jy en Charl van Wyk woon tans saam. Hoe vul julle mekaar aan as kunstenaars?
Ons het ʼn lieflike sinergie. Hy doen grafiese ontwerp, en is ʼn deeltydse rosyntjieboer. Hy het ʼn kunstenaarssiel en daar is soveel fasette van kuns wat ons saam ontdek, soos musiek en teater. Omdat ons so afgesonder is, vermaak ons mekaar. Ons het ʼn baie ondersteunende verhouding.
Watter uitdagings bied die afgesonderheid ten opsigte van jou werk? Wat mis jy van die stad? En wat mis jy nie?
Ek mis definitief kunsgalerye. Ek vind wel dat indien ons stad toe gaan, ons nou meer moeite doen om galerye en teaters te besoek. Dan natuurlik ook die verskeidenheid restaurante en kos. Ek bly maar ʼn foodie! In terme van kunsbenodighede, is ons gelukkig aangesien alles deesdae gekoerier word. Wat ek nie mis nie, is beslis shopping malls, en om gedurig in verkeersknope te sit, en die gejaag oor die algemeen.
Wanneer kan ons jou volgende uitstalling verwag?
Ek het geen idee nie! In die verlede het deadlines vir uitstallings bepaal hoe vinnig ek klaarmaak. Nou het ek besluit ek gaan die druk van myself afhaal en eers reekse voltooi, ongeag van hoe lank dit vat. Wanneer die werke voltooi is, sal ek dan besluit waar ek graag wil uitstal. Ek dink dis ʼn tipe van ʼn “respek” wat ek vir my werk wil gee. Dis nie altyd moontlik nie – daar is steeds die commissions wat ek moet doen om rekeninge te betaal. Maar ek wil dinge rustiger vat. Ek het nie meer ʼn behoefte om elke jaar ʼn uitstalling te hê nie. Ek is besig met ʼn reeks werke en daar gaan ’n uitstalling wees dié jaar, maar waar en wanneer moet ek nog besluit…
Besigtig Leanne se werk by www.leanneolivier.com