Skip to main content

‘n Vliegtuig het gisteroggend net buite Port Elizabeth neergestort oomblikke nadat die vlieënier op ‘n grond-aanloopbaan versnel het om op te styg.

Volgens die vlieënier was die kilometerlange aanloopbaan ongelyk. Dit het veroorsaak dat die vliegtuig begin rondspring.

In ‘n e-pos het die vlieënier die insident bevestig en het die volgende verklaar:

“Ek het die kontrolekolom effens teruggetrek om te keer dat dit nog ‘n keer wip as gevolg van die neerkoms op die neuswiel. Nes beplan het ons afgekom grond toe op die hoofwiele. In daardie ritme het ons nog ‘n hobbel getref wat ons hoër die lug ingestuur het teen ‘n laer spoed as wat ‘n King Air veronderstel is om te vlieg op daardie hoogte.

“Die gevolglike lae neus, opstygkrag-instelling en lae spoed het ‘n linkse gier veroorsaak. Dit was te laat om die opstyg te staak omdat die aanloopbaan na regs begin buig het op daardie presiese punt.

“Ek was klaar op pad die bosse in al het ek probeer om uit te vlieg. Ongelukkig kon die krag nie die situasie oorkom nie en ons het die bosse in getrek,” sê die vlieënier in sy skrywe.

“Daar was geen wind ten tyde van die voorval nie en die vliegtuig het perfek presteer soos dit moes.

“Ek is hartseer oor die insident, maar dankbaar dat ons almal ongedeerd daarvan afgekom het.”

Daar was vier persone aan boord. Die vlieënier het slegs sy kop gestamp en een van die insittendes het ‘n rugspier verrek. Verder is geen ernstige beserings aangemeld nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!