Druk telefoonfobie dood
Telefoonfobie of telephobia bestaan. Die vrees om ʼn oproep te maak, óf te neem. Dié twee aksies, vir baie mense so natuurlik soos asemhaal, gee vir foonfobielyers grys hare. Gerald Eloff ken van en vertel.
As tiener, het ek self aan foonfobie gely. Die probleem het meer kompleks geword toe ek begin werk het, veral toe ek kliënte moes skakel. Telefoonfobie word selfs vergelyk met verhoogvrees, aangesien beide toestande te doen het met die vrees vir interaksie met ʼn gehoor, en val onder dieselfde sambreel as sosiale angs – ʼn toestand waaraan 15 miljoen Amerikaners ly. En moenie dink dis deesdae makliker met selfone nie – baie mense se status op hul sosiale-mediaprofiele lees selfs dat hul geen oproepe aanvaar nie; net boodskappe. Mynsinsiens kan jy nie die heeltyd ʼn telefoonoproep ignoreer nie – in ʼn stadium, moet jy antwoord en praat.
Jy breek op, van waar?
Daar is verskeie faktore wat tot telefoonfobie kan lei. Sommige redes is voor die hand liggend – baie mense wat introverte is, hou bloot nie van direkte kommunikasie nie en vermy dit om te gesels oor koeitjies en kalfies. Digitale kommunikasie laat hulle toe om hulle gesprekke beter te bestuur en gee hulle tyd om te dink oor wat hulle wil sê. Depressie is nog ʼn faktor – mense wat aan depressie ly, onttrek hulle aan gesprekke en vermy kommunikasie met ander. Post-traumatiese stressindroom (PTS) kan ook ʼn rede wees – ʼn persoon mag dalk in die verlede slegte nuus oor die foon ontvang het, en assosieer die gebruik daarvan juis daarmee. Laastens, is sommige mense net bloot angsbevange om met vreemdes te praat, hetsy dit is om ‘n toespraak te lewer of oor ʼn foon te praat.
Nommers asseblief?
Jill Isenstadt, die vise-president van Joyable, ʼn organisasie wat mense help om oor depressie en angstigheid te oorkom, het in ʼn onderhoud met die BBC beweer dat van hul kliënte stagneer in hul loopbane weens hul vrees om op die telefoon te praat. Sy beweer “dis ʼn komplekse interaksie vir baie mense wat ʼn telefoon gebruik – jy moet aan allerlei dinge dink en terugvoer gee op wat mense sê.” Die navorsers het dieper gedelf en presies uitgevind hoe ver kantoorwerkers sal gaan om telefoonoproepe te vermy. Vanuit 500 deelnemers aan die studie, het 62% gesê hulle ervaar angs voor hulle die telefoon antwoord. Die hoofredes was: Die wete dat hulle nie behoorlik toegerus is om vrae te beantwoord nie (33%), die vrees dat hulle sal “vries” op die lyn (15%), dat mense negatief van hulle sal dink (9%), en laastens dat mense sal dink hulle klink vreemd as hulle praat (5%).
Dié resultate is nie goeie nuus vir besighede nie. Volgens Sara Parker, die bemarkingsbestuur van Face for Business, ʼn maatskappy wat telefoonoproepe namens ander besighede neem in Brittanje, moet sake-ondernemings ʼn menslike en emosionele kontakpunt met hulle kliënte vind. Werknemers moet nie wegkruip agter tegnologie soos e-posse nie – dis van uiterse belang om verhoudings en vertroue te bou. Hoewel telefoonfobie ondersoek word onder verkoopspersone (telefoonoperateurs), kom dit ook voor onder joernaliste, sekretaresses en prokureurs, en basies enigiemand wat oproepe maak en ontvang. Telefoonfobie maak dit natuurlik ook erger as ʼn lyer ‘n werksonderhoud oor die telefoon moet doen.
Millennials kry dit hotagter
Dit wil egter voorkom of telefoonfobie erger is onder millennials. Daisy Buchanan, verslaggewer by The Guardian, beweer dat millennials geïntimideer word deur telefoonoproepe, juis omdat dit so indringend is – veral vir ʼn generasie wat gewoond is aan meer indirekte maniere van kommunikasie soos SMSe en sosiale media-boodskappe. Die bogenoemde meningspeiling het bevind dat 76% van diegene wat gebore is tussen 1981 en 1996 die meeste telefoonfobies is, in vergelyking met baby boomers (40%). Christien Nesser, ʼn spraakterapeut van Johannesburg wat veral met jongmense werk, is dit eens met Buchanan. Sy sien daagliks die agteruitgang van verbale kommunikasie onder kinders. “Met die toename in tekskommunikasie raak verbale kommunikasie vir seker swakker”, sê Nesser. “Ek vermoed een van die redes is die oorstimulasie van die linkerbrein deur middel van skermgebruik (hetsy selfoon, tablet of rekenaar), en dìt veroorsaak die afskeep van die regterbrein, waar die luisterfunksie gesetel is.”
Ontknoop jou tong só
Uit bogenoemde statistieke blyk dit dat die probleem algemeen in die samelewing voorkom. So, hoe gemaak om telefoonfobie te oorkom? Meeste terapeute gebruik ʼn benadering afkomstig van kognitiewe gedragsterapie om pasiënte te behandel. Isenstadt vra pasiënte om hul angstige gedagtes te identifiseer as hulle oor die telefoon praat, en gee dan voorbeelde van die ergste wat kan gebeur. “Deur die terapie programmeer ons hulle breine om te leer dat dit nie so erg is om ʼn oproep te maak nie. Mettertyd tel hulle die telefoon op en maak maklike oproepe, soos om ʼn pizza te bestel.”
Daar is ook alternatiewe metodes. ʼn Artikel op die BBC se webwerf, lys die volgende riglyne om telefoonfobie in ʼn werksituasie te oorkom:
- Dink aan die ergste wat kan gebeur – dis gewoonlik nie so erg soos as wat jy dink dit sal wees nie.
- Verstaan presies voor die tyd hoekom jy die oproep maak.
- Dink aan ʼn manier van hoe jy die oproep gaan begin en gaan eindig.
- Besef dat niemand verwag dat jy perfek oor die telefoon moet praat nie en dat foute aanvaarbaar is.
Algemene raad om jou foonvrees te oorkom:
- Gesels met mense naby aan jou wie jy ken en vertrou deur maklike en eenvoudige vrae te vra.
- Oefen deur ʼn kliëntediens (soos ʼn bank) met voorafopgeneemde boodskappe te skakel.
- Skryf neer wat jy die ander persoon wil vra.
- Haal diep asem voor jy die oproep maak, asook gedurende die oproep. Deur jou asemhaling te reguleer, sal jy rustiger word.
Ek het gelukkig my vrees oorkom namate ek ouer geword en meer selfvertroue gekry het. Daar is egter altyd mense wat met dié fobie vir ʼn telefoon of selfoon, of die lui daarvan, moet saamleef. Met die regte behandeling en raad, hetsy deur terapie of selfhelp, kan mense dié uitdaging, of vrees, oorkom.