ISAAC CLOETE
Die burgerregteorganisasie AfriForum het Sedibeng Water dringend versoek om hul waterprobleme spoedig op te los .
Sedibeng Water verskaf die afgelope ongeveer tien jaar water aan die Nama Khoi munisipaliteit (NKM), met sy hoofsentrum op Springbok.
Vir die afgelope paar jare al en veral die afgelope paar weke, sukkel hulle om volhoubare drinkbare water aan duisende inwoners te verskaf.
Dit het vuisvose en woedende inwoners erg verontrief en ontstoke gemaak.
Luidens AfriForum se skrywe aan Sedibeng Water moet hulle teen of voor 2 Junie aandui waarom die watertoevoer nie herstel is nie. Of wanneer dit herstel gaan word.
Inwoners is al keelvol vir die watervoorsiener se verskonings aan hulle die afgelope aantal jare.
Dit sluit in:
* Pompe wat nie ten volle werk nie;
* Opgaardamme wat nie vol is nie;
* Kragonderbrekings;
* Stukkende pype en lekkende opgaardamme.
Jocelyn Wippenaar is ‘n enkelma wat voltyds werk. Volgens haar gaan alles af, veral tydens beurtkrag. Dis die water, krag, selfoonseine, en nog meer terwyl die ander dorpe ten minste nog selfoonseine het.
“Ons wat werk is nie tuis wanneer die waterlorrie kom nie. Boonop is die water vuil of die trok leeg as dit eendag hier opdaag.”
Sy vertel verder dat sy en haar seuntjie (3) al vir ses dae sonder lopende water is. Sy het slegs twee 20 liter waterkanne en moet self sien dat die swaar kanne vol kom en in die huis gedra word.
“Ek was my kind in ‘n jug water en dan was ek in sy water. Hierna moet ek dieselfde water vat en dit in die toilet gooi tot dit bietjie vol is. Die toilet moet maar ruik soos dit ruik, want hoe gemaak?”
Indien Sedibeng Water nie op 2 Junie aan AfriForum se twee versoeke aandag skenk nie oorweeg hulle om die hooggeregshof te nader ter wille van die verbruikers van NKM, volgens Sarel Stone, die voorsitter van hul Springbok-tak.
Vroeër het die NKM ook klagtes teen Sedibeng Water by die Menseregtekommissie gemaak, wat nog ondersoek word.
Plaaslike inwoners vertel dat Sedibeng Water ‘n verleentheid, onbevoeg, onprofessioneel en boonop onervare is. Hulle is egter bly dat dié grootmaat waterverskaffer Namakwaland teen einde van Junie gaan verlaat.
Volgens amptenare by NKM is daar al ‘n verbetering in die watertoevoer wat daarop dui dat probleme besig is om opelos te word.