As jou bank vou, sal tot R100 000 se fondse wat in jou rekening is, gewaarborg word.
Dìt volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank wat ‘n nuwe Korporasie vir Depositoversekering in plek gesit het wat kliënte sal dek vir die eerste R100 000 wat hulle in die bank het, ingeval die bank sou misluk.
Kliënte het in die verlede net R50 000 teruggekry.
Die Reserwebank het gesê dit sal deur die banksektor gefinansier word en nie die regering nie. Dié besluit volg op ’n besluit van die Reserwebank om UBank – ’n kleinhandelbank wat hoofsaaklik daarop gefokus is om finansiële dienste aan mynwerkers en hul gesinne te verskaf – onder kuratorskap te plaas weens sy verswakkende kapitaaltoereikendheidprofiel die afgelope maande.