Skip to main content

Top Gun: Maverick

Aksiedrama

Met Tom Cruise, Miles Teller, Jennifer Connelly, Jon Hamm, Glen Powell, Charles Parnell, Monica Barbaro, Ed Harris en Val Kilmer.

Blink nostalgie op supersoniese vlerke

Sonnette Lombaard

Hollywood se eens goue era met regte sterre wat jou met rollende beelde-kuns veelsydig kan betoor, is lankal ‘n bedreigde spesie. In ‘n millennium-mensdom sluk ons kitskapsules, vertoef oral kortstondig en kraai die klatergoud van werklikheidstelevisie se glanskaders koning.

Nie meer nie! Met die lankafgewagte Top Gun 2 wat vandag landwyd begin draai, word die ou orde kragdadig herstel. Hoogtyd en hoera: Hollywood het ons lanklaas só tydig en triomfantelik met ware fliekkuns kom verlei en red!

Top Gun: Maverick kry reg wat min moderne flieks kan probeer. Want 36 jaar nȧ die eerste uitklophou in Top Gun (1986) pluk dit jou weer uit jou stoel na die hoogste hemele waar vaartbelynde vliegwonders met reëlmaat deur die klankgrens bars. Ja, van die oomblik dat Kenny Loggins se destydse klankbaantreffer Danger Zone weer opbulder, is jy in gevaar! Groot, met g’n begeerte om te vlug nie; anders as oorgawelik oor te gee vir spoedaksie saam met vuurwarm-vlieëniers. En jy word nie teleurgestel nie!

Boonop nȧ ‘n vooraf-verrassing met ‘n persoonlike warm verwelkoming deur jou kaptein, maar dit moet jy self gaan aanhoor!

Laat dit dadelik gesȇ word: Tom Cruise annekseer die dromrol hier want Hollywood se langslewende superster baljaar steeds stylvol, bykans vier dekades later, die skerm vol. Hy steel hier eiehandig die kollig by sy sterk span kollegas, oud en jonk, om Top Gun 2 sekuur na loketwennerstatus te stuur. Aan die vooraand van sy 60ste verjaarsdag, rus die afgewagte opvolgfliek vierkantig op sy koel skouers. En onder sy begeesterde leiding laat dit raam vir raam reg geskied as waardige opvolger vir die eerste fliek met sy welverdiende popkultuurstatus.

Die storie tel 30 jaar later op. Rebel-topvlieënier Pete “Maverick” Mitchell (Cruise) is terug waar hy hoort. Nou kaptein, leer hy opkomende jongelinge die vegfliekkuns in supersoniese jets. ‘n Allerbelangrike geheime sending in ‘n vyand se taai terrein wag en sal hul vaardighede in die peperduur vegvliegtuie tot die uiterste beproef.

Onder sy hotshot studente tel lt. Bradley “Rooster” Bradshaw (Miles Teller), seun van Maverick se boesemvriend lt. Nick “Goose” Bradshaw. Goose se dood in Top Gun, het Maverick en fliekgangers eweveel gegooi. As deel van Hollywood se millennium Brat Pack, beïndruk Teller in elke nuwe rol. Ditto hier. Terloops, dié lenige akteur het ons agterplaas gekies om in die luukse Madikwe-natuurreservaat sy vrou Keleigh die jawoord te vra!

Die nuwe span jong Top Gunners is aangepas om lewensgetrou die moderne eeu te weerspieël en sluit ‘n vroulike vlieënier in! Die brunet-aktrise Monica Barbaro helder die skerm op en is as lt. Natasha “Phoenix” Trace ‘n vonds. Saam met ervare Jennifer Connelly sorg sy met panache dat evas nie ‘n tree terugstaan nie vir Top Gun se testosteroon-gedrewe rolverdeling en storielyn. Die bekroonde Connelly, ‘n ma van drie wat met twee grade aan Ivy league universiteite spog, is ‘n sag-op-die-oog-staatmaker! Haar tydlose skoonheid is nommerpas vir haar rol as die onopgesmukte kroegeienaar en enkelma Penny Benjamin. Sy en Maverick het ‘n geskiedenis en kry nou as middeljariges weer ‘n kans op liefde.

Hoe welkom dat Hollywood hier wegstuur van jong poppies as heldin teenoor ouer mans in hoofrolle. Connelly is op 51 steeds lieflik, lagplooie en al. Hierin sien jy ook Cruise, wat self op 3 Julie 60 word, se hand. Dit vra twee uitgeslape veterane om die groot doek met volwasse liefde geloofwaardig te laat brand.

Die ander veterane wat hier die blink jongspan wys hoe, sluit in Maverick se base: Ed Harris as admiraal Chester “Hammer” Cain en Jon Hamm as vise-admiraal Beau “Cyclone” Simpson. En natuurlik Val Kilmer as Tom “Iceman” Kazansky, Maverick se gedugte kompetisie in Top Gun. Kilmer, wat ‘n keelkankerstryd agter die blad het, is die enigste ander lid uit die eerste fliek wat terugkeer in ‘n kleiner maar stewige rol, nou as Vlootadmiraal.

Dis juis die vernuftige vermenging tussen oud en nuut, teruggryp en hede, wat in die opvolg die uitklophou plant. Die draaiboek bruis met heerlike terugblikke as huldeblyke aan die eerste fliek en sy onvergeetlike karakters, kookmusiek, asook sexy ysterperde en strandsport! Dit was duidelik vir Cruise, ook vervaardiger hier, van kernbelang om nie van die oorspronklike wenresep af te wyk nie, maar dit genoegsaam by te bring met heersende tye en tendense om ook nuwe aanhangers te oorrompel. En hy doen!

Sy insette in die opvolgfliek is dawerend, soos die raakvatkeuse van ‘n multi-kulturele rolverdeling en nuwe regisseur. Yank Joseph Kosinski se regte oftewel nie-rekenaar gegenereerde fliekaksie sit die trotse Top Gun-tradisie spoggerig voort met vuurwarm-aksie uit die kajuit! Die opvolg word opgedra aan Tony Scott, regisseur van die eerste fliek, wat in 2012 van ‘n brug in Los Angeles na sy dood gespring het.

Supersoniese vaartbelynde vegvliegtuie deel weer die kollig en geniet gelyke karakterstatus. Die F-18 Super Hornet neem oor by die geliefde F14 Tomcats van die eerste fliek, maar lg. word geensins vergeet nie. En gordel vas, want in die openingstonele blaas ‘n futuristiese gietswart lugmonster, geskoei op die geheime, lengendariese spioenvliegtuig Blackbird, met Cruise aan die stuur, jou weg!

In ‘n plastiekgedrewe Kardashian-kloonera bring Top Gun: Maverick  welkome lafenis en voldoen aan ȧl die verwagtinge. Dis pure nostalgie behendig opgewarm, in eietydse baadjie verpak. Bravo, Tom Cruise vir jou classy opvolg, waardig van lofprysinge!

One Comment

  • Marié Beytell says:

    UITSTEKENDE RESENSIE deur Sonnette Lombaard. Ek bespreek so gou moontlik kaartjies om ook TOP GUN te gaan kyk!!

    🤩

Leave a Reply

error: Content is protected !!