HY IS SEKERLIK DIE BEKENDSTE HOND IN SUID-AFRIKA SE GESKIEDENIS, MAAR MET PERCY FITZPATRICK SE GESKIEDENIS IS ’N MENS DALK MINDER BEKEND…
Wat weet ons van sir Percy FitzPatrick? Ja, hy was ‘n delwer, transportryer, koerantman en skrywer, maar ook politikus, landsverraaier, mynfinansier en pionier van die sitrusvrugtebedryf in Suid-Afrika.
Percy is op 24 Julie 1862 gebore. Sy pa, die Ier James Coleman FitzPatrick, was ’n regter in die hooggeregshof van die destydse Kaapkolonie. Toe dié in 1880 dood is, skop die jongman net daar sy studies op en begin na sy ma en die res van die gesin omsien.
Sy eie trektog, avontuurlus en dalk ’n soeke na rykdom lok hom na die goudneerslae van die Laeveld. In die lente van 1884 daag hy in Pelgrimsrus op en kry dadelik werk as delwer, maar baie goud was daar nie meer nie. Kort voor lank word Percy transportryer.
Die belangrike mark in daardie jare was in Lydenburg (deesdae Mashishing). Van daar af is goedere na al die delwerye vervoer. Sommige goed moes egter in die ou Delagoabaai, vandag Maputo, gaan haal word. Teen die tyd dat Percy transport begin ry het, was die roete na Delagoabaai lank reeds ’n gevestigde transportroete.
Die Voortrekker-leiers Louis Trichardt en Andries Hendrik Potgieter het albei ’n roete na die see gesoek en uiteindelik in Delagoabaai uitgekom. ’n Groot deel van daardie roete loop deur die hedendaagse Krugerwildtuin en staan ook as die “Voortrekkerpad” bekend. Dit het verby Pretoriuskop geloop tot by Afsaal, die piekniekplek op die pad tussen die Malelane-hek en Skukuza, en van daar oor Nelmapiusdrif in die Krokodilrivier.
Dis dieselfde roete wat Percy in 1885 op sy “Jock-trek” gevolg het en waarvan ’n mens in sy kinderverhaal Jock of the Bushveld lees. Hy beskryf die bedreiging van tsetsevlieë en malaria en daarom kon daar net in die droë wintermaande daarheen gery word. Tog was daar ’n dringende behoefte aan goed soos pikke, skopgrawe, masjinerie, blikkieskos en kaste jenewer, whisky, brandewyn en bier.
Op sy laaste, futiele tog, het Percy met net drie osse teruggekeer na Barberton en dié drie het dae later gevrek. Sonder werk en sonder ’n inkomste het hy hom na die Gold Fields News, die plaaslike koerant, gewend en hy sou hom mettertyd tot die pos van redakteur opwerk. In 1892 word hy as “hoof van intelligensie” by die Johannesburgse kantoor van Hermann Eckstein en Vennote aangestel. Hulle was deel van die Londense firma Wernher-Beit en Vennote, wat met mynbougrond handelgedryf en geld voorgeskiet het. In 1897 verskyn Percy se eerste boek, The Outspan – Tales of South Africa, en in 1899, kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, The Transvaal from Within, wat ’n sterk politieke geur gehad het.
“Waarste” storie oor Jock
Percy het hom met oorgawe tot die politiek gewend. Hy was een van die leiers van die Reform Committee, wat Paul Kruger se regering omver wou werp. Vir sy aandeel in die mislukte Jameson-inval van 29 Desember 1895 is hy van hoogverraad aangekla.
Hy is beboet en vir twee jaar tronk toe gestuur, maar het net ’n jaar daarvan uitgedien. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het Percy se swak gesondheid weens diabetes hom daarvan weerhou om aktief deel te neem. Hy het wel opgetree as raadgewer vir die Britse regering en in 1902 is hy tot ridder geslaan.
In die tyd dat hy by Eckstein en Vennote gewerk het, het Percy en sy gesin in ’n herehuis, Hohenheim, in Johannesburg gewoon. Hy is in 1889 met Elizabeth Lillian Cubitt, oorspronklik van Potchefstroom, getroud en hulle het vier kinders, Percy Nugent, Alan, Oliver en Cecily, gehad. Hy sou saans om die kaggelvuur aan sy kinders stories van sy transportryerdae vertel. Een van die gesin se gaste was ’n Engelse skrywer, Rudyard Kipling…
“Skryf hierdie stories neer! Dit moenie verlore gaan nie,” het die outeur van The Jungle Book gesê.
Terwyl Percy by ’n sanatorium in Duitsland behandel is, het hy daad by die woord gevoeg. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1905 het die manuskrip, wat aanvanklik The Life, the Man and the Dog geheet het, stadig maar seker vorm aangeneem.
Hy het Londen deurkruis op soek na ’n illustreerder vir sy boek en uiteindelik besluit op Edmund Caldwell. Percy was onwrikbaar: Caldwell moes die sketse in die Afrika-landskap kom maak. Sy hele gesin is uiteindelik saam, op vier waens wat deur muile getrek is. Hulle het die hele roete gevolg soos Percy dit twee dekades vroeër gery het. In September 1907 verskyn Jock of the Bushveld.
Die boek se sukses was verstommend. Dit is binne twee maande herdruk en selfs, Pres. Theodore Roosevelt van die VSA was liries daaroor. Hy het gesê dit is die “waarste storie oor ’n hond wat ek nog gelees het, en ek het almal gelees”.
Sir Percy FitzPatrick is in 1931 in die ouderdom van 68 op sy sitrusplaas in die Uitenhage-distrik dood. Drie van sy vier kinders en ook sy vrou is voor hom dood en dit was sy dogter, Cecily, wat uiteindelik vir haar pa se nalatenskap geveg het. Sy was onwrikbaar in haar geloof dat die boek feitelik én van groot historiese belang is. Een van haar idees was om ’n kaart uit te gee met die roete wat Jock in 1885 saam met haar pa gevolg het. Die destydse Transvaalse Provinsiale Administrasie het uiteindelik ingestem en in 1949 is daar ses roetemerkers opgerig. Elk het gespog met ’n afbeelding van Jock, gegrond op een van Caldwell se sketse, en die woorde “Jock: Trek 1885”. Twee van die oorspronklike merkers staan nog – die een langs die pad net buite die Numbihek en die ander op private eiendom, waar Bill Sanderson se winkel was, in die Witrivier-omgewing.
In die 1980’s, met die eeufeesviering van Percy en Jock se trek, het die Laeveldse Delwers-en Transportryersvereniging besluit om die idee uit te brei. Oral waar die Jock-roete bestaande paaie kruis, selfs in die wildtuin, is roetemerkers opgerig. Nie een van dié merkers se koperplaatjies is nog daar nie. Tussen 2016 en 2018 het Mpumalanga Erfenis die projek opnuut getakel.
In sy boek Forgotten Tracks and Trails of the Escarpment and the Lowveld, verskaf dr. Gerrit Haarhoff die GPS-koördinate van al 36 hierdie merkers en dié roete kan as ’n avontuurrit aangepak word.
Het Jock regtig gelewe en al die dapper dinge gedoen waarvan Percy in die boek skryf? Ongetwyfeld, sê die romantiese siele vir wie die verhaal ’n kosbare kultuurerfenis verteenwoordig. Tog is daar mense soos Gerrit wat meen die staaltjies is bloot dít – ’n versameling kampvuurstories oor dapper honde wat Percy in sy dae as transportryer gehoor het. Hoe dit ookal sy, Jock lewe voort, en enigeen kan in sy en sy baas se spore volg.