Skip to main content

Net ‘n dag nadat Eskom twee dade van sabotasie by sy Tutuka-kragstasie bevestig het, was daar Donderdag en Vrydag twee verdere verdagte voorvalle by ‘n ander Eskom-kragstasie.

Daar word nou gevrees dat georkestreerde sabotasieveldtogte gevoer word om te keer dat beurtkrag gestaak word.

Eskom-amptenare by die Hendrina Kragstasie het Vrydag vergeefs gesukkel om eenheid vyf by dié kragstasie aan te skakel, en by nadere inspeksie is daar bevind dat koperstawe en reaktorgrondstawe op die eenheid se kragopwekker gedurende die nag verwyder is.

Daar word wel diefstal vermoed, maar die konsensus is dat diewe van buite nie toegang tot die persele sou kon kry, en daarna die kabels en die reaktorstawe uit drie eenhede betyds kon verwyder voordat die skade agtergekom was nie.

Volgens ‘n Eskom-verklaring word die sabotasie sedert die afgelope naweek ‘nie eers meer verdoesel’ nadat nog ‘n kabel op Eenheid 1 by Eskom se Matla-kragstasie gesny was nie. Dit maak dit die vierde sabotasie-voorval in twee weke.

“Eskom glo dit is opsetlike dade van sabotasie deur iemand wat toegang gehad het en die veiligheidskenmerke in die gebied redelik goed ken,” lui ’n Eskom-verklaring.

Eskom het ook nou die Konstitusionele Hof genader om twee van Suid-Afrika se munisipaliteite wat hulle die meeste skuld nie van meer elektrisiteit te voorsien as waarvoor die voorsieningsooreenkomste voorsiening maak nie.

Die Lekwa Munisipaliteit in Mpumalanga en die Ngwathe Munisipaliteit in die Vrystaat skuld die nutsmaatskappy altesaam R2,8 miljard.

“Die strukturele en institusionele probleme van die twee munisipaliteite kan nie voor die deur van Eskom gegooi word nie,” het Eskom se prokureur Sydwell Shangisa gesê.

Leave a Reply