Die ANC-regering is onlangs gedwing om te erken dat Afrikaans wel ‘n inheemse Afrikataal is. Hierdie deurbraak is egter byna onmiddellik ontsier deur die nuus dat die ANC Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, daarop aandring dat Afrikaans verwyder moet word uit die naam van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.
“Die absurde en roekelose voorstel om Afrikaans te verwyder uit ‘n monument wat juis opgerig is as ‘n viering van die invloede van dwarsoor Afrika en die wêreld wat gelei het tot die totstandkoming van hierdie unieke taal, kom neer op ‘n growwe aanval op Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners – en veral op die Afrikaanssprekende meerderheid in die Wes-Kaap, waar die Taalmonument geleë is,” sê die DA in ‘n verklaring.
“Die DA doen ‘n dringende beroep op die bestuur van die Afrikaanse Taalmonument om nie die knie te buig voor die waansin van Nathi Mthethwa en die ANC nie. Eerder as om monumente van hul betekenis te stroop en ons diversiteit te probeer aanval, behoort Suid-Afrika se ryk en diverse taalerfenis gekoester en beskerm te word.”
“Mthethwa het gesê dat die ATM se naam moet verander en dat dié verandering ononderhandelbaar is,” sê die FAK.
Op 28 Mei vind daar ‘n openbare vergadering in die Paarl plaas, waar die publiek gevra sal word om insette te lewer. By hierdie vergadering sal die DA hulle petisie teen die naamsverandering aan die bestuur van die Afrikaanse Taalmonument oorhandig met die duidelike boodskap: behou die naam van die Afrikaanse Taalmonument!
Die FAK se petisie teen die naamsverandering kan onderteken word by Dit is steeds ons erns! – FAK. Die DA se petisie is beskikbaar by Petisie om die Afrikaanse Taalmonument se naam te behou! (da.org.za)