Skip to main content

CORLIA VAN DEVENTER

Wanneer ’n brand uitbreek in die Roodeplaat-omgewing, noord-oos van Pretoria, is Coenraad Louw en sy wederhelfte van die eerstes op toneel.

Louwtjie, soos vriende en gemeenskaplede hom ken, het saam met die Roodeplaat brandbestrydingsvereniging-span dikwels sy eie lewe gewaag om ander te red.

Nou veg die dapper brandweerman vir oorlewing nadat hy gediagnoseer is met breinkanker.

Milydia Potgieter, ’n familievriend en lid van die Kameeldrift Trauma Sentrum, sê Louwtjie is op 8 Maart vanjaar gediagnoseer met breinkanker en het ook met velkanker geworstel.

“Hy het nog so baie planne gehad. Hy wou graag bewusmaking by skole gedoen het oor velkanker en wou ook meer betrokke wees by die plaaslike kankervereniging.”

Potgieter sê Louwtjie se toestand het egter onlangs snel agteruitgegaan en hy is Dinsdag, 17 Mei opgeneem in ’n hospitaal, oos van Pretoria, met erge swelling op sy brein.

“Die begin van Maart is gewasse redelik suksesvol verwyder en dit het vir ’n ruk beter gegaan.”

Sy sê Louwtjie en sy vrou Stella sal op ’n latere stadium moet besluit of nog ’n operasie, indien moontlik, die beste vir hom sal wees.

Die egpaar, gelukkig getroud sedert 23 Junie 1986, is reeds vyf jaar betrokke by die Roodeplaat BBV.

“Namens die Roodeplaat BBV, wil ek vir Louwtjie sê: ons is so dankbaar vir sy onbaatsugtige, harde werk, toewyding en diens aan sy gemeenskap,” sê Potgieter.

“Ons is dankbaar vir sy leiding aan ons vuurvegters as koördineerder. Hy en Stella is 24/7 reg vir aksie, met ’n koelboks, koue  drinkgoed, ge-’dress’ en ge-radio, vol energie en entoesiasme op elke toneel.”

Sy vra dat die Roodeplaat-gemeenskap Louwtjie en sy familie in hul gebede hou deur die strawwe tyd wat vir hul voorlê.

Die Roodeplaat BBV is ’n nie-winsgewende organisasie wat bestaan uit opgeleide vrywilligers wat hul gemeenskap tydens brande en noodsituasies dien.

Leave a Reply