Skip to main content

Bond, Bowie, Bean & die Queen

Argaïese adel of broodnodige Aardsouma? Afrikaanssprekendes verskil vurig oor koningin Elizabeth II wat sewe dekades op die troon vier en ondanks storms, skade en skandes op 96 voortheers. Sonnette Lombaard berig.

Al kromgetrek deur openbare en private woelinge oor twee eeue, trap die stywelip Britte se troonsitter nie maklik ‘n adellike voet verkeerd nie. Nie net is koningin Elizabeth een van die mees herkenbare gesigte op Moeder Aarde nie, maar sy oorrompel steeds beroemdes, bekendes en onderdane met haar onverskrokke toewyding en pligsgetrouheid en waardigheid op die troon. En sy kȧn ‘n humorgaping eien en inspan … veral as dit haar volk bevoordeel.

Soos met die Olimpiese Spele in 2012 in Londen toe sy trots meegedoen het aan een van die pikantste openingsoomblikke nog. Die kamera zoem in waar sy en die Britte se superspioen 007 planne in ‘n Buckingham-paleisgang beraam voordat sy Bond vir ‘n spesiale sending afvaardig. Dan daal Daniel Craig met ‘n valskerm in die Spele se hoofstadion neer. Dié verrassings-scoop by die Somer Spele het haar Britse onderdane triomfantelik laat gloei en verklap die nasie se verknogtheid aan hul Lilibet en adellikes. Al gaan daar al hoe meer en wyer stemme op oor of bloubloedbevoorregting nog in ‘n moderne mensdom pas.

Die Britte en miljoene ander aanhangers oraloor het ‘n supersagte plek vir Elizabeth wat in ‘n kitsroem-era verseg om te moderniseer en haar kroon prys te gee. Een wat sy sedert die ouderdom van 25 jaar moes dra nȧ haar pa, koning George VI, se dood in 1952.

Nȧ sewe kroonsomers is Elizabeth se onkreukbare beeld na buite oorbekend – haar liefde vir haar corgis en perde ten spyt, wys sy selde emosie en maak rare foute. Die een wat kleef, is met haar skoondogter, prinses Diana se skokdood in 1997. Wyl die wêreld openlik gerou het oor hul überprinses, het Elizabeth verseg om meegesleur te raak. Bekend dat Diana tydens haar huwelik en die bitter egskeiding daarna van troonopvolger prins Charles die bloubloedfamilie gas gegee het, het die koningin vasgeskop. Maar moes eindelik swig voor die openbare druk en het die nasie toegespreek. Dis lank nie al adeltwis wat na buite oorkook nie. Haar kinders en kleinkinders, en hul huwelikskeuses, sorg gereeld vir hoofopskifte. Soos toonlekker Fergie wat van prins Andrew geskei is. Boonop bly Andrew se eskapades met jong meisies in die Jeffrey Epstein-skandaal spook. Les bes, is kleinseun, prins Harry en sy aktrise-vrou Megan Markle, deurgaanse amokmakers.

Elizabeth se jubeljaar vanjaar is sonder haar getroue lewensmaat prins Philip, wat op 99 jaar in 2021 dood is. Hulle was 74 jaar getroud. Vinnig aan’t krimpe, kan dié klein vroutjie steeds die sjarmekrane oopdraai. Vansdeesweek het Hollywood se grootste ster, Tom Cruise, sy openlike bewondering vir haar verklaar. Ditto Winston Churchill, Madiba en ‘n Russiese ruimtevaarder wat, wel, vatterig geraak het. Yuri Gagarin, die eerste mens in die ruimte, het gebieg hy het oor ontbyt in die paleis in 1961 sy hand op die koninlike knie gesit. Volgens hom wou hy sekermaak Lilibet is ‘n lewende wese en nie ‘n pop nie. Onseker oor die eetgerei, het sy hom gou op sy gemak gestel: “My dear Mr Gagarin, I was brought up in this palace, but believe me, I still don’t know in which order I should use all these forks and knives.”

In 1974 toe haar suster, prinses Margaret, morsig van Lord Snowdon skei en gedreig het om uit die venster te spring, het Lilibet kalm laat hoor: ”Haar kamer is op die grondverdieping.” Sy het aan pres. Jimmy Carter haar streng dieëtgeheime uitgelap – sy durf nie gewig optel nie omdat sy deur die jaar in sewe verskillende uniforms moet pas.

Prof. Amanda du Preez, visuele kultuurkenner van Tukkies, verduidelik dat Elizabeth ongetwyfeld ‘n ikoon van die 20ste en 21ste eeu is. “Haar beeld is sigbaar en maklik herkenbaar. Dit gaan nie oor persoonlike voorkeur nie. Haar beeld (ikoon) is herkenbaar vir die meeste mense op die planeet … nes Donald Trump s’n. DÍs wat ikonies beteken in die streng sin van die woord.”

Voorts wys politieke ontleder Piet Croucamp daarop dat die koningin ‘n seremoniële instelling eerder as ‘n gesagsbron is. “Polities is sy en die monargie skadeloos, soos dit hoort. Maar, sy verteenwoordig die verworteling van die liberale demokrasie, ‘n ontsaglik belangrike herinnering aan die mensdom se strewe na vryheid en die verligting.”

Volgens Croucamp het hy persoonlik enorme deernis met haar. “My ouma is vroeg in my lewe oorlede. Elizabeth was op ‘n bisare wyse my geestesouma. Sy is goed vir die mensdom.”

Matty Strydom, Karoo-skrywer wie se debuutboek in 2021 gepubliseer is, wonder of Elizabeth eietydse ikoon of anachronisme is? “Sy is nou langer op die troon as Queen Victoria. Maar tye het verander en die tweede Elisabethan Era word nie na verwys nie. In ons kortstondige fame-era is sy soos ‘n dunlippe-ouma wat langdurig kopskuddend toekyk. Of dit na haar eie kroos is wat weer aanjaag óf die wêreld wie se skroewe los is.”

Skrywer/digter Johan Jack Smith, ook redakteur van die ATKV se tydskrif Taalgenoot, verstaan nie die fassinasie met die Britse koninlikes nie. “Hoe meer ek oplees oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis, hoe groter word my aversie. ‘n Begin sal wees as sy verskoning vra vir haar voorsate se oorlogsmisdade gedurende die ABO (en die res van die wêreld).”

Smith bevraagteken die ikoniese etiket. “Hoekom? Omdat sy nog leef? Omdat sy en haar bloedlyn hulself geweldadig verryk het met die wêreld se minerale? Dis ‘n argaïese instelling.”

Marie Beytell, kabaretster aka Afrikavrou, is ook anti-koninklikes. “Ek is ‘n meritokraat wie bevoorregting wat spruit bloot uit bloedlyn inténs verafsku. Dus moeilik om te erken dat dié vrou, oftewel fenomeen, wel ‘n eietydse ikoon geword het.”

Minstens is sy eg, teenoor sepiesterre wie ons hoofstroom se drome, geheime fantasieë en vrese plasties-gepiekseleerd uitleef, meen Beytell. “Sy bestaan in vlees en bloed. Haar juwele en weelde, mag en aansien is hare om te geniet. Ten koste van privaatheid. Sy het haarself nog nooit wangedra in die publiek nie en is ‘n ikoon vir álmal, ook arme aspoestertjies soos ek, wat droom oor prinse of prinsesse met paleise en koetse en om bedien te word.”

Kaz McFadden, akteur van Pretoria, gee toe dat Elizabeth ’n ikoon is. “Of sy dit verdien, is ’n ander vraag. Dat sy langer as Victoria en veel meer as sy moes aanpas by tendense is waar.” Maar, sê McFadden, om jou greep op verouderde tradisie te verslap, is minder merkwaardig “as om skouer aan die wiel te sit en die wa die toekoms in te stoot. Haar leierskap geld net in beskrywing”.

Radio-omroeper Lundi Khoisan is kort en kragtig. “Die koningin is ‘n ikoon deurdat sy letterlik ouer is as die konsep van gesnyde brood, wat in 1928 ontdek is. Anders as dit, is die idee van ‘n monargie argaïes. Dis tyd vir nuwe, diverse leierskap.”

Adellike aanhanger, of nie, tot die doodsengel kom draai, gaan koningin Lilibet nêrens heen nie. Vir eers is sy ‘n lewendige, nasionale skat wat deur genoeg mense gekoester óf bevraagteken word.

One Comment

  • Nadia says:

    Sjoe om ‘n nuwe kyk te plaas op ‘n algemene onderwerp. Die Koningshuis! Ons almal het Crown opgeslurp, dit het my wildste verwagtinge oortref om te sien dat nog ‘n nuwe dimensie kon bygeheg word aan die Koningshuis, selfs haar unieke noem-naampie is nuut en uniek. “Lilibet”

    Ek geniet die staaltjie van die Olimpiese Spele 2012, sulke uitstekende navorsings werk. Die unieke invalshoek van hoe voel Suid Afrikaaners oor die verdagte koningshuis het my gedagtes verbreed en ingekleur. Dit laat my dink aan die prent geskilder van Winston Churchill, deur Graham Sutherland. Ons hoef nie almal se gunsteling te wees nie, soveel hoop van daardie oogpunt.

    Ek het die humor & sjarmekrane wat oopgedraai is in hierdie artikel besonder geniet. Die verhaal van Mr Gagarin, asook dat Margaret se kamer op die grondverdieping is. Ek geniet Piet Croucamp se surrogaat Ouma verhaal! Dankie Die Waarheid vir nog ‘n kop-en-skouer bo die res artikel!

Leave a Reply to Nadia Cancel Reply