Mondli Gungubele, die minister in die presidensie, moes vinnig skarrel om woedende Suid-Afrikaners te paai oor die regering se voorneme om ‘n 100m-vlagpaal, wat R22 miljoen sal kos, op te rig.
“Dit was nie bedoel om ons uitmekaar te skeur nie,” het die minister gesê.
Die departement van kuns en kultuur het ook vinnig aangekondig het dat hy die projek sal hersien.
Volgens Gungubele het die kabinet nie geweet wat die koste sou beloop nadat dit goedgekeur was nie.
Twitter het gegons met galbrake van Suid-Afrikaners wat wou weet hoekom die ‘simpel regering nie eerder die honger mense in die land kon voed nie, of werk met die geld kon skep nie’.
Dan was daar ‘n twiet wat wys dat Stad Kaapstad tien nuwe vulliswaens gekoop het wat ‘net’ R25.5 miljoen gekos het.
Bantu Holomisa was ook vinnig met ‘n twiet nadat aangekondig is dat die vlag-episode ‘hersien’ sal word. En Peter Terry wou weet hoekom daardie geld nie eerder aan die departement van kuns en kultuur sélf spandeer kon word nie.
Dié met ‘n beter sin vir humor as die vuisballende landsburgers het selfs ‘n som gemaak dat Faf de Klerk vir drie jaar in sy Speedo op ‘n vlagpaal kon staan vir daardie bedrag geld, en dat dit ‘n beter toeriste-lokaas sou wees.