Die Waarheid is in besit van ‘n brief wat ‘n raadop ouer aan die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gerig het oor die ‘mishandeling’ van haar graad ses kind by Forest Heights Primêr in Eersterivier, skryf Sonja Brown.
Die ouer, wat naamloos wil bly, noem die klasonderwysers, hoof en vise-hoof by naam, en sit die probleme wat sy ondervind by die skool duidelik uiteen.
Een van die klagtes is dat die onderwysers nie haar kind wou toelaat om toilet toe te gaan toe die nood druk nie, want ‘hy mag nie nou die ry verlaat nie’. Die kind se pa het die skool gekontak, en dit het net veroorsaak dat die kind méér geviktimiseer was deur die betrokke onnie.
Die kind waaroor die brief aan Motshekga gaan, het swak oë en dra sodoende ‘n bril. Een van die onnies het die kind opsluit agter in die klas geplaas ten spyte van die ouer se telefoniese pleidooie dat hy voorlangs moet sit om die werk op die swartbord in die klas te kan lees. Twee weke ná die foonoproep van die ma na die juffrou het die kind steeds agter in die klas gesit. Die ma het die onnie in persoon gekonfronteer, maar dit het net op ‘n geskreeu van die juffrou se kant af ontaard, en sy het die kind as ‘n leuenaar uitgemaak. Die juffrou het ook aan die ma gesê dat ‘jy nou besig is om my te irriteer’.
Ander ouers en leerders wat die herrie aanskou het was geskok oor hoe die onnie tekere gegaan het.
Die ouer het die voorval by die vise-hoof aangemeld, maar dié wou niks verkeerd hoor van die onnie nie, en haar antwoord was eenvoudig: ‘Ek ken die juffrou. Is jy seker van jou saak?’ Die vise-hoof het die betrokke onderwyser heeltyd geprys.
“Ek het toe gesê siende dat sy dan nou net die juffrou prys gaan dit niks baat dan om te sit en gesels nie want sy het klaar besluit wie is reg,” het die ouer aan Die Waarheid gesê.
Volgens die ouer het ‘n ander leerling haar ingelig dat die betrokke onnie beweer het dat sy die kind die vak [geskiedenis] wat hy by haar neem, gaan laat druip. Die kind (informant) wou nie verder betrokke raak nie, want sy het gesê dat dit haar woord teen die juffrou s’n sou wees.
Nog ‘n klagte vanaf die skool was dat die betrokke ouer glo haar kind se opstelle vìr hom skryf omdat die ma ‘n skrywer en digter is. Die juffrou het erken dat sy die kind daarvan beskuldig het. Die ma sê dat die nie waar is nie. “Kan ek help dat my kind my skrytalent geërf het?” wou die ma gebelg weet.
Die ma het by ‘n ouervergadering ook opgelet dat haar seun agter haar wegkruip toe hulle by ‘n sekere juffrou se klas ingeloop het. Die ma wou by haar kind weet wat fout was, en die onnie het gelag en gesê daar ‘is niks fout nie. Ek en hy kom goed oor die weg.’
Die skoolkind het uiters swak gevaar in twee van sy vakke, en nadat die ouer die toetse wou sien, is daar allerhande verskonings aangebied oor hoekom dit nie gewys kan word nie.
Die kind het intussen ‘n maagseer ontwikkel, en die familie se huisdokter is bekommerd daaroor. Die dokter het op 22 Maart vanjaar ‘n brief aan die skool geskryf, maar daar was tot dusver nie hierop gereageer nie.
“Ek probeer sedert daardie doktersafspraak ‘n onderhoud met die klasonderwyser, die hoof of die onderhoof kry, maar tot dusver word my pleidooie geïgnoreer,” sê die ma hartseer. “Die een keer toe ek wel probeer het om net by die skool op te daag en só ‘n vergadering te bewerkstellig, was ek deur die onderhoof én die klasjuffrou ingewag. Die onderhoof was glo net daar om minutes te neem, maar die atmosfeer in die vertrek was baie negatief.
“In Maart moes my seun voorberei vir ‘n natuurwetenskap-eksamen, maar sy handboek was deur die klasonderwyser ingeneem. By verdere navrae het die onnie dit ontken, maar nadat ek byna R100 aan fotostate van ‘n ander kind se handboek spandeer het, iets wat ons as gesin glad nie kan bekostig nie, het die onderhoof sy boek by die skool gaan soek, dit gevind en na my huis toe gebring. Dìt nadat die klasonderwyser ontken het dat sy dit ingeneem het.
“Drie dae later het my graad ses seun net inmekaar gesak. Dis toe dat ons hom dokter toe geneem het.”
“Ek het telkemale probeer uitreik na skool vir my kind se onthalwe maar ek kry geen ondersteuning van die skool af nie,” lui ‘n deel uit die ma se brief aan Motshekga.
Die ma voel omdat sy oor een onderwyser gekla het, haar kind ook nou “anders behandel word” deur ander graad ses onderwysers.
“Ek voel dis onnodig en onregverdig om my kind se jaar so moeilik te maak.
“Vergaderings word gekanselleer op nommer 99 sonder verduidelikings en niemand stel belang in my seun se gesondheid nie. Hy het nog nooit ‘n maag ulcer gehad in sy lewe nie; dit het nou ontwikkel.”
Die ma hoop dat haar brief aan Motshekga sal help dat die onderwysers by Forest Heights Primêr in Eersterivier aangespreek sal word.
Die Waarheid het met die hoof, vise-hoof, sowel as die een klasonderwyser probeer kontak maak vir ‘n verklaring, maar tot dusver is daar geen terugvoer van die skool af nie.
Die ouer het wel laat weet dat, nadat Die Waarheid die skool probeer kontak het, die onderwysers nou skielik met haar wil vergader oor die gebeure by die skool die afgelope paar maande.
Die Waarheid het ‘n e-pos van Helen Zille ontvang waarin sy aandui dat sy ook die regte owerhede in kennis gestel het van die situasie by dié betrokke skool.
*Name word weerhou op regsadvies.