Oudpresident Jacob Zuma se korrupsieverhoor is eergister in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg uitgestel om die Hoogste Hof van Appèl (HHA) toe te laat om ‘n besluit te neem oor sy voortgesette pogings om aanklaer Billy Downer van sy saak te verwyder. Hierdie saak kan ook moontlik in die Konstitusionele Hof ‘n draai maak.
Zuma se prokureurs het reeds vroeg in April ‘n aansoek ingedien om te vra dat die appèlhofpresident, Mandisa Maya, sy ‘spesiale pleit-appèl’ – wat aanvanklik summier deur haar hof afgewys is – moet heroorweeg.
Die saak is nou deur regter Piet Koen tot eerskomende Dinsdag uitgestel om die huidige status van Zuma se petisie aan die HHA-regterpresident vas te stel. Koen het beveel dat, indien Zuma se poging hierdie keer teen die verwydering van Downer misluk, sy verhoor dan sal voortgaan op 31 Mei en vir die res van die hofjaar sal voortduur.