Gordel vas, Maverick kom red
Dit het ‘n era groot gegiet, die Cruise-missiel gelanseer en supersoniese vegvlieëniers met sexy sonbrille en strandlywe geparadeer. Met romanse op ysterperde en koel musiek. Drie dekades later is Top Gun terug, mét mening, skryf Sonnette Lombaard.
Dat Hollywood in die moeilikheid is, is g’n geheim nie. Met data-stroom- en videodienste wat top fliekvermaak gerieflik tuis uitrol en die pandemiegrendels wat teaters lank lamgelȇ het, stik die wêreld se fliekmekka tans aan oorlewingsdruk.
Met hoofsaaklik superheldflieks wat post-pandemie by fliekteaters presteer, is die nood vir ‘n mega-geldwenner wat dié reuse-vermaakskip kan red, groot. En watter beter held vir dié kerntaak as moderne Hollywood se koelste, tawwe tienie, oftewel Tom Cruise? In die herhaling van ‘n geliefde en ikoniese doekrol wat hom in 1986 tot supersterdom gelanseer het. Boonop is sy terugkeer op patriotiese vlerke tydig en middeljarigbraaf, te midde van ‘n voortwoedende regte oorlog…
Die wedervaringe van rebel-topvlieënier lt. Pete “Maverick” Mitchell het 36 jaar gelede in Top Gun fliekgangers, geslag- en ouderdomloos, oraloor uitgeknikker. Die fliek en sy geliefde karakters wat ook nie kykers se trane gespaar het nie, regte aksietonele en klassieke liefdesstorie met treffermusiek het die 1980s se tydsgees op hoë spoed vasgegryp. Sedertdien smag die mensdom hoorbaar vir nog van dié guitige grootdoekaksie.
Dié oomblik het eindelik aangebreek. Die kulturele impak van Top Gun het selfs die skindertydskrif People genoop om ‘n spesiale uitgawe daaraan te wy. Om saam te val met die uitreiking van Top Gun: Maverick, wat vandag by die jaarlikse Cannes-filmfees bekendgestel is. En môreaand opgevolg word met ‘n glans-premiere in Londen waar die fliek se sterre saam met bloubloed William en Kate die rooitapyt sal opoemf. Die fliek begin op Vrydag, 27 Mei landwyd in Suid-Afrika draai.
Dat Cannes dié hoofstroomwenner plek gee by sy gesogte fliekfees vir meer “uitgesoekte kykkuns”, verklap veel oor Top Gun as kulturele fenomeen. Sy plek in popkultuur is onbetwisbaar verdienstelik. Oorsese resensente besing reeds die afgewagte opvolg, wat ‘n allemintige $152 miljoen kos, en fluisteringe van Oscar-benoemings in 2023 doen die rondtes!
Dìt wil gedoen wees – lokettreffers se opvolge het ‘n bewese swak rekord by teaters. In Top Gun: Maverick hervat die storie van die Vloot se topvlieënier Maverick (en ja, Cruise smeul steeds aan die vooraand van 60). Maverick ploeg nou as toetsvlieënier terug, ook om bevordering en lessenaarsleur te systap. Hy maak jong top-vegvlieëniers vir ‘n spesiale sending touwys, insluitende lt. Bradley “Rooster” Bradshaw (Miles Teller), seun van Maverick se vriend, wyle lt. Nick “Goose” Bradshaw, wie se dood in Top Gun fliekvlooie hardop laat grens het.
Al ander lid van Top Gun wat saam met Cruise terugkeer, is Val Kilmer as sy gedugte kollega Tom “Iceman” Kazansky. Hy en Cruise het destyds dik pelle geword na “onvergeetlike kameradie “op die stel, aldus Kilmer. Kilmer wat intussen ’n keelkankerreis moes oorwin, se stryd met Maverick word in die opvolgfliek volrond beloer.
Die uitreiking van die opvolg is ook bittersoet – ‘n dekade nȧ die selfdood van Tony Scott, wat die eerste fliek so behendig geregisseer het. Dit het aan Scott oornagroem besorg. Hy het egter in 2012 van ‘n brug in Los Angeles gespring wyl hy en Cruise die opvolgfliek nagevors het. Later is gegis die Engelsman het kanker gehad.
Gerekende Yankregisseur Joseph Kosinski staan pa vir die opvolgfliek. Sy voorliefde vir regte oftewel nie-rekenaar gegenereerde fliekaksie, maak hom nommerpas om die trotse Top Gun-tradisie voort te sit en sy opvolg beloof ongeëwenaarde lugaksie in supersoniese, vaartbelynde vliegmasjiene. Konsinski spog met ‘n graad in meganiese ingenierswese en meestersgraad in argitektuur. Hy het laat glip dat aktrises Kelly McGillis en Meg Ryan wat deel van Top Gun se sukses was, nooit deel van die opvolgstorie was nie. Oscarwenner Jennifer Connelly moet dié keer Maverick se harde dop kraak.
Diegene wat reeds die nuwe fliek kon sien, het verklap dit het weer oorgenoeg regte aksietonele, wat aanhangers plesierdronk gaan tiep. As ‘n ervare, gelisensieerde vlieënier met sy eie helikopter, vat Cruise graag self die stuurstang en doen ook sy eie waagtoertjies, hoe uitdagend ookal. Die Amerikaanse Vloot het weliswaar ferm voet neergesit dat hy tydens verfilming voor in die kajuit van die supersoniese F-18 Super Hornet kon sit. Sy tonele is geskiet vanuit die agtersitplek met ‘n regte vegvlieënier voor. Te verstane – die F-18 jet se prysetiket beloop meer as $70 miljoen!
Top Gun het juis destyds die gewildheid van die sierlike vegvliegtuie F-14A Tomcats, wat intussen onttrek is, deur die klankgrens laat bars. En Cruise, toe in sy vroeë 20s, se sterstatus ewe hemelhoog ingeskiet. Dié lojale Scientoloog rus egter g’n op sy louere nie. Bekend as hardwerkende akteur wat sy loopbaan netjies bestuur, blink hy in van aksie- tot romantiese held. Sy grenslose gewildheid het selfs die Britte se broeke vandeesweek laat bewe dat hy hul geliefde koningin se kollig kan steel by haar platinumvieringe ter ere van 70 jaar op die troon. Cruise het vroeg vanjaar hier ook Laevelders op hol gehad waar hy besig is om aan sy nuutste aflewering van nog ‘n loket-reekswenner Mission Impossible te skiet.
As vervaardiger van die Top Gun-opvolg, het Cruise sy sin kry met die rolverdeling en sorg slim vir ‘n geloofwaardige, eietydse gevoel met ‘n multi-kulturele span, insluitende vroulike vlieëniers. Kultuurkenners wys lank op die waarde van die befaamde strandtoneel in Top Gun waar Cruise en sy ewe gespierde kollegas met olieblink-kaalbolywe in stywe jeans vlugbal speel. Met Kenny Loggins se Playing with the Boys wat stout in die agtergrond dawer. As ongekende ooglusmaker was dit ‘n doekdeurbraak wat voorgeloop het om vir eens die parade van die manlike liggaam, pleks van vroue, voor rolprentlense te belig. Die gaygemeenskap heil dit as ‘n ikoniese fliekoomblik waar die kamera direk op die manlike liggaam inzoem. Hoe ookal sy, dié sexy toneel resoneer steeds vuurwarm meer as drie dekades later.
Prof. Amanda du Preez, visuele kultuurkenner by Tukkies, beaam ongebreidelde manlikheid was beslis deel van Top Gun se uitklopsukes. “Tesame met spoed, gevaar, opwinding, kameraderie, asook vliegtuie en motorfietse. En ‘n aardskuddende klankbaan.”
Cruise het juis Lady Gaga self gekies vir die dramatiese, nuwe liefdeslied Hold my Hand. Gaga of te not, sy trek groot skoene aan want Top Gun se bekroonde kookklankbaan was deel van die wegholsukses met megatreffers soos die liefdesballade Take My Breath Away van Berlin. Genoeg om te sê, op die pasuitgereikte Gaga-video gee haar sterk persona en stem van agter die klawers Cruise op sy vurige ysterperd gas!
Top Gun was egter meer as testosteroon op aksie. Dit het selfs die wispelturige modewêreld oorrompel en veral aviator-sonbrille as tydlose moet-mode-item gevestig. Dié klassieke sonbrille in ‘n traanduppelvorm met ‘n dun raam het in die 1930s gedebuteer as praktiese oogbeskermers vir vlieëniers. Die Yanks se Vloot het die oogghoeroes Bausch & Lomb gevra om sonbrille vir sy vegvlieëniers te ontwerp wat die son genoegsaam sou blok vir konstante goeie visie tydens dagvlugte.
Volgens Du Preez kan ‘n fliek se gewildheid bloot oor tyd beoordeel word “as dat dit ‘n sekere sentiment of versugting in dié tydsgees vertolk het”. Internasionale verhoudinge ten tye van die Koue Oorlog het bygedra tot Top Gun se uitklophou. “Dit het ook gebou op Philip Kaufman se patriotiese The Right Stuff (1983).”
Du Preez meen tyd sal leer of die opvolgfliek wel sy voorganger se sukses kan herhaal. “Indien wel, sal dit wees omdat die nuwe weergawe streng by die ou resep hou. Dít kan egter weer problematies binne kontemporêre genderverhoudinge wees.”
Met soveel opwinding en afwagting is dit gerusstellend dat Hollywood se toekoms op Cruise se uberkoel-skouers rus. Ikoon word hoeka te maklik in millennium-omgangstaal rondgegooi. Vir Tom Crusie is dit welverdiend. Sy grootdoekpatriotisme is popkultuurkuns. Stof die aviators af en lek lippe af. Top Gun: Maverick klief donderend in aantog van oor die waters…
Ek glo hierdie artikel is die “trifecta” van uitstekende joernalistiek. Fantastiese taal gebruik! ‘n Woorde kunstenaar. Ek het soveel van hierdie artikel ge-onderstreep, in die hoop dat hierdie uitmuntige taal gebruik sal deel word van my woordeskat:
i.e. “die pandemiegrendels wat teaters lank lamgelȇ het, stik die wêreld se fliekmekka tans aan oorlewingsdruk.”
Fantastiese, Sherlock Holmes tipe van intense navorsing, dat die film Top Gun ‘n spesiale People uitgawe gehad het. Asook dat dit was Mission Impossible wat geskiet is in die Laeveld en nie Top Gun nie. Nou kan ek met spog-regte rondom die braaivleis-vuur hierdie week staan. Dis mos hoekom ons lees, om ons algemene kennis te verbreed!
Om te verduidelik wat maak ‘n film werklik invloedryk, dat ‘n film die modesgees beìnvloed. Met Tom Cruise sonbrille en al!
Om die uitstekende musiek te eer, ek het sommer dadelik die Lada Gagga liedjie op my “speel lys” gaan plaas. Dis artikels soos hierdie wat my uitermatig trots maak om ‘n Boeremeisie te wees, dankie Sonnette Lombaard, jy is vir ons ‘n voorloper!