Skip to main content

ISAAC CLOETE

‘n Beweerde verkragtingsvoorval teen ‘n amptenaar het sy kollegas en ‘n gemeenskap geskud.

Die 56-jarige senior amptenaar (sy naam is aan Die Waarheid bekend) by die streekskantoor van onderwys op Springbok staan tereg op aanklagtes van die verkragting van ‘n 9-jarige meisie. Hy is ook ‘n gesinsman en voormalige onderwyser wat soms waarneem as streeksdirekteur by hierdie departement.

Die voorval het oor die naweek gebeur, het ingeligtes half versigtig vertel. Toe hy later in hegtenis geneem is, het sy kollegas en die gemeenskap met skok gereageer.

Die beweerde voorval het Vrydagaand gebeur toe die meisietjie by die verdagte se huis oorgeslaap het, volgens polisiewoordvoerder, kapt Olebogeng Tawana.

Blykbaar het die slagoffertjie by haar maatjie gaan kuier. Blykbaar het die verdagte se gesinslede die dogtertjie se gille gehoor, volgens ingeligtes na aan die voorval.

Die verdagte en die slagoffertjie se mammie is familievriende volgens die polisie. Hy was Woensdag aangekeer en het  Donderdagmiddag, 12 Mei, in die Springbokhof verskyn.

Intussen eis sy kollegas en die plaaslike inwoners geregtigheid. Baie voel dat hy nooit weer “daglig” moet sien nie. Ander het vertel  dat hulle hard bid vir die dogtertjie en haar familie.

Volgens Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement, is hulle bewus van die voorval en bewerings. “Ons het die amptenaar intussen van al sy pligte en verantwoordelikhede onthef. Hy het ook Donderdag ‘n skrywe van die department ontvang wat sy tydelike en voorsorgende skorsing bevestig.”

Luidens die skrywe sal die verdagte geskors bly totdat alle ondersoeke afgehandel is. Hierna sal besluit word op enige verdere optrede teenoor hom.

Donderdag het die verdagte die hofsaal senuweeagtig binnegekom. Hy het ‘n swart en wit wollerige sweetpaktop aangehad.

Intussen is die saak uitgestel tot 17 Mei vir ‘n formele borgtogaansoek. Hy bly tot dan in aanhouding, het Tawana verklaar.

Ben van Zyl het vir hom opgetree en Basil “Jaguar” Kock was die staatsaanklaer.

Leave a Reply