Skip to main content

ISAAC CLOETE

‘n Bekgeveg oor ‘n skool se geld het twee skoolbestuurders nou in die sop.

Een van hulle is die skoolhoof, Michael Cloete. Hy het na bewering R23 000 van Kamieskroon Laerskool in sy rekening laat betaal. Hieroor was ‘n WhatsApp-boodskap versprei.

Dit was geld wat ‘n huurder van ‘n koshuiskamer vir ‘n jaar vooruit betaal het.

In die ander hoek is die voorsitter van die beheerraad (SBL), Piet Smit. Hy is ook die ANC-raadslid hier. Smit het glo huurgeld van ongeveer R8 000 in die geheim ontvang. Die huurgeld was die geld wat ‘n huurder van ‘n koshuiskamer in kontant betaal het.

Volgens Lionel van Wyk, ‘n ouer hier, het die voorsitter aanvanklik vir Cloete vanaf Februarie geteister oor die R23 000.

“Smit het sommer voor almal vir Cloete by die skool  aangevat oor die geld. Die twee se bekgevegte het later normale skoolfunksies beïnvloed. En dit het op leerders, opvoeders en ouers gewerk.”

Toe die departement van onderwys (DvO) op Springbok nie wou ingryp nie, het die besorgde ouers die skool se hekke laas Donderdaag gesluit. Die polisie moes ingryp sodat die ouers die hekke en skool moes oopmaak.

Intussen het die DvO die skool Donderdag agtermiddag besoek om die ouers te woord te staan en om Smit se bewerings te ondersoek. Smit, Cloete asook kapt Gert Coetzee (die stasiebevelvoerder) was teenwoordig, volgens van Wyk. Hy vertel verder: “Op die vergadering het die skoolhoof erken dat die geld in sy rekening betaal was. Hier het dit egter aan die lig gekom dat Smit ook huurgeld ontvang het. Dit was kontant (sonder kwitansies) wat ook nooit by die skool uitgekom het nie.”

Toe die ouers Smit se bedrog uitlig, het hy boos uit die vergadering gestap, volgens Van Wyk.

Vrydag was ‘n kriminele klag deur gegriefde ouers teen Smit gemaak, asook ‘n lastersaak omdat hy gereeld die skoolterrein betree en foto’s neem van die skool.

Intussen het die DvO die ouers verseker dat ‘n ondersoek teen Cloete geloods gaan word oor die bewerings rondom die R23 000.

Cloete het gesê dat hy (ook) ’n saak van naam- en karakterskending teen Smit gaan maak het.

Kap. Coetzee het bevestig dat die ouers ‘n kriminele klag teen Smit gaan lê het. Hy het ook vertel dat hy laasweek die gemeenskapsvergadering gereël het. Alle rolspelers was betrek en hier kon almal hulle menings lug oor die geldkwessie.

Smit was nie gewillig om te reageer op navrae en boodskappe oor die aangeleentheid nie. Dit is ook nie seker of die ANC hom gaan onderwerp aan enige ondersoeke nie.

Leave a Reply