The Lost City
Aksie-avontuur-romanse
Met Sandra Bullock, Channing Tatum, Daniel Radcliffe en Brad Pitt.
Evas blink in hygavontuur
Sonnette Lombaard
Dit wil gedoen wees. Om in jou openingsweek Batman oraloor uit die toppossisie te boender! Nogals vanuit die boendoes, deur ‘n badass vrou of twee, op spykerhakke, én te midde van tiertestosteroon wat die oerwoud soos lanklaas laat stoom.
Dit vra natuurlik vir ‘n uitgeslape veteraan soos almal-se-liefling-aktrise Sandra Bullock (hier goed ondersteun deur Da’Vine Joy Randolph) om dit reg te kry. Die fliek is immers ‘n Bullock-baba. As vervaardiger en in die hoofrol as heldin hygskrywer druk sy haar stempel af. Bygesê, jy kan haar nie juis mis nie – in ‘n glam pers onesie en op swart spykerhakke vind sy panache-paraat haar weg deur dié oerwoudavontuur.
As topverkoper hygroman-skrywer is haar Loretta Sage ligweg depro en lei ‘n kluisenaarslewe nȧ haar argeoloog-man se dood. Wie se argeologie-kennis en -vondse steeds handig in haar avontuurlike spanningsromans te pas kom. Deel van haar wenresep is die eksotiese agtergronde waarteen vuurwarm liefde ontwaak. Die gespierde, maar oënskynlike breindood model Alan (Channing Tatum, ewe met blonde langhaar-pruik) poseer lank as haar manlike held Dash op die boekomslagte.
Tydens ‘n boektoer saam met Alan om haar nuutste roman bekend te stel, word Loretta deur die eksentrieke biljoenêr Abigail Fairfax (Daniel “Harry Potter” Radcliffe) ontvoer na ‘n eiland waar die beweerde Lost City gelee is. Die gierige skelm het gesnap Loretta verwys in haar nuwe roman daarna en wil haar forseer om hom en sy beleërde span daarheen te lei. Dit bied onverwags aan Alan, meer bekend vir sy spier- as breinkrag, sy lank afgewagte kans om regte held te speel. Hy kommandeer dadelik die geheimsinnige aksieman Jack Trainer (Brad Pitt met windverwaaide blonde, lang lokke) op om te kom help. Intussen neem Loretta se bekkige en tawwe mediaverteenwoordiger Beth (Joy Randolph) ook nie verlief met die toedrag van sake nie en ruk vroualleen na die eiland op met haar eie reddingsplan…
The Lost City is geskoei op die soortgelyke loketwenner War of the Roses (1984) waarin Michael Douglas en Kathleen Turner se aantrekkingskrag die grootdoek laat brand het. Hier moet Bullock grootliks alleen die wa deur die oerwoud trek. As vervaardiger het sy wel haar sin gekry en die rolverdeling slim gekies om diverse kykers te lok en te sorg dat die pas en intriges interessant en vinnig bly. Bullock is nie verniet een van Hollywood se langslewende en besbetaalde groot sterre nie. Dis tot haar krediet dat sy nié vasgeval het nie in haar meisie-langsaan-sjarme wat haar wêreldwyd in die bekoorlike romantiese komedie While you were Sleeping (1995) gelanseer het. Sedertdien pryk genoeg blink beeldjies, insluitende ‘n Oscar, op haar mantelrak.
Dis goed Pitt verskyn net in ‘n kameerol want sy sterk doekpersona en teenwoordigheid alleen sou maklik die kollig kon wegraap. Tatum wat lyk soos 007 Daniel Craig se direkte afstammeling, doen niks verkeerd nie. En sy sexy danspassies (die gewilde Step Up-dansreeks het hom geloods) is altyd ‘n bonus. Sy onbeholpe held wat sy geheime liefde vir Loretta wil openbaar, laat ook nie jou hart koud nie. Radcliffe is helaas waarskynlik vir tyd en ewigheid as Potter-held gedoem.
Bullock en haar span het laas jaar vir vier maande na die Dominikaanse Republiek opgeruk om dié groot-begroting fliek te skiet. Dit het in die openingsweek reeds dubbel die reuse-begroting geïn. Dit kom ook nie as verrassing dat vroue 61% van die gehoor opmaak nie.
Teen die einde verwys Pitt se karakter na die mite dat mense net 10% van hul breinkrag gebruik. Dis werklikwaar ook al wat hierdie lig-lawwe fliekavontuur van jou vereis. Terugsit en saam met mooi mense in die oerwoud verdwaal…
Met die titelrol merk my fliekgenoot op dat dit lyk of Bullock en haar uitgesoekte vriende-span ‘n feestelike tyd gehad het met die maak van die movie. Kan nie daarmee verskil nie.