Skip to main content

Die oorlog wat woed tussen Rusland en Oekraïne is besig om grootskaalse paniek in die miljard-dollar diamantbedryf te saai vanaf Siberië tot in New York.

Alrosa PJSC, die Russiese mynreus, verskaf ongeveer ‘n derde van die wêreld se rou edelstene.

Nou vestig die VSA sy oë op Indië vir dié edelstene, maar die sanksies teen Rusland kan Indië tot soveel as $2,5 miljard kos vir hierdie kwartaal. Dit is sowat 10% van sy jaarlikse verkope.

Volgens ‘n berig in Bloomberg het werkers in die Indiese stad Surat, een van die wêreld se grootste poleerspilpunte, ledig rondgesit omdat diamant-invoere gehalt was oor die sanksies teen Rusland.

Dit is nie goeie nuus vir die sowat 2,5 miljoen troues wat vanjaar in die VSA beplan word nie.

Indië voer steeds Russiese diamante na die VSA uit omdat hul huidige voorraad voor sanksies aangekoop is, maar daardie voorraad sal teen die eerste week van Junie opraak, sê Vipul Shah, die ondervoorsitter van Indië se Gem & Jewellery Export Promotion Council.

De Beers, die wêreld se tweede grootste diamantverskaffer, kan ook nie die pyp rook wat die verskaffing van diamante betref nie. Hier is min kans op wesenlike toenames in aanbod voor 2024.

Die verlies van toegang tot Russiese diamante oor die lang termyn sal die bedryf verwoes, het Shah gesê, wat duisende werksgeleenthede in Indië in gevaar stel en groot handelsentrums regoor die wêreld tref.

Leave a Reply