Skip to main content

Inwoners van die informele nedersetting op die spoorlyn in Langa het Vrydag aan Fikile Mbalula, die minister van vervoer, gesê hulle sal nie trek voordat hulle die grond gewys is waarna hulle verskuif gaan word nie.

Sedert treindienste na Khayelitsha, Mitchells Plain, Nyanga en Bonteheuwel in 2019 opgeskort is weens vandalisme en kabeldiefstal, het gesinne informele nedersettings op die spoorlyne in die gebiede gestig.

Gemeenskapsleiers van die drie nedersettings het gesê hulle stem saam dat diens op die sentrale lyn herstel moet word, maar hulle wil weet wanneer hulle verskuif sal word, waarheen, en wil eers die stuk grond sien.

Die leiers het ook geëis dat al die betrokke partye insluitend die Stad Kaapstad, PRASA en die Departement van Menslike Nedersettings ‘n getekende ooreenkoms bring as bewys dat hulle teen November verskuif sal word. Hulle het gesê sodra hulle weet waarheen hulle verskuif word, sou hulle die grond self beskerm teen besetting deur ander, lui ‘n berig in GroundUp.

Loyiso Nkohla, wat Langa- en Philippi-spoorwegbesetters verteenwoordig, het aan die Minister gesê: “Dit is ‘n mislukking van jou kantoor. Minister, ons het al baie kere gesien hoe jy aankondig dat mense teen November verlede jaar verskuif sal word. Toe sê jy ‘volgende jaar in Julie’. Nou dit is Mei 2022 en jy herhaal dieselfde aankondiging as verlede jaar.” Hy het ook die rol van die Stad Kaapstad bevraagteken.

Mbalula het aan die gemeenskapsleiers gesê hy sal oor twee weke terugkom, hopelik vergesel deur ‘n verteenwoordiger van die Stad en die Minister van Menslike Nedersettings, om inwoners te wys waarheen hulle sal trek.

Leave a Reply