Skip to main content

Ons taal het nie net sommer oornag ontstaan nie. En die pad tot hier was ook nie maklik nie. Dit is juis die stryd om bestaan wat ons taal haar veerkragtige, liplekker, volrond-gevoel gee.

Afrikaans is een van die mees aanpasbare, heilsame tale in die wêreld, en ek glo dat dit hierdie kwaliteit is wat haar bestaan in sement in Afrikanerharte verewig het.

Volgens kenners is taal ‘n volk se innigste kenmerk, en mý taal is presies dìt. Ek is van mening dat dit juis hierdie kenmerk is wat agter die hele ‘raak ontslae van Afrikaans’ beweging sit.

Ons taal is die baba van smeltkroestale wat ontstaan het as gevolg van ‘n kreoliseringsproses, en hierdie baba is nou mooi groot. Èn sterk. Niks sal haar knak of breek nie. Almal behoort dit tog te weet.

Baie Afrikaanssprekendes kon, as hulle wou, van hul moedertaal afsien, maar hulle het nie. En hoekom sou hulle?

“Ek sal nie,” sê Ané Bothma driftig. “Dis die taal waarin ek droom, en leef, en ja, swets. Maar dis mý droom-, leef- en swetstaal.”

“Wys my ‘n ander taal waar mens sulke lekker woorde kry soos ‘jislaaik’, en ‘aspatat’,” voeg sy vinnig by.

“My ma se gunsteling woord is ‘antieksjiek’,” sê Herman Lubbe. “En sy meng glad nie haar taal wanneer sy praat nie. Uit haar mond het ek die eerste keer die woord ‘kransburger’ gehoor as beskrywing vir ‘n bobbejaan.”

Afrikaans is so deel van my soos my in- en uitasem. Soos my vel. Iets waarin ek gemaklik is.

Toegegee, daar is tye wanneer ons die soutiebaadjie moet aantrek, maar dis net tydelik. Niks kan ons moedertaal vervang nie.

My immegroen taal streel, en heel, en betower.

Mag sy van krag tot krag gaan, en volrond haar plek in ons harte en op ons tonge behou.

Sê my, wat beteken Afrikaans vir jóú?

Leave a Reply