Skip to main content

ISAAC CLOETE

Woedende inwoners het weer strate toe gegaan om ‘n munisipaliteit tot orde te roep.

Hulle is die gatvol inwoners van die Kamiesberg munisipaliteit (KBM) met Garies as hoofsetel. Vrydag het inwoners van ongeveer 12 omliggende dorpies (uit 14) kragte saamgespan en na die KBM opgeruk.

Gewapen met ‘n megafoon en aanmanende plakkate het oud en jonk van alle kleure die hoofstraat hier beset. Van die opskrifte het gelui: “Kamiesberg munisipaliteit, kry jou gat in rat;”  “Verwyder die verkeerde mense en stel geskikte persone aan:”  “Waarheen gaan ons geld?” en “Kamiesberg munisipaliteit verarm ons mense.”

Nadat die rumoerige optoggangers vanuit die bruin woonbuurt beweeg het, het hulle voor die munisipaliteitsgebou vergader. Hier het verskeie inwoners uitdagende slagspreuke na die amptenare geslinger.

Griefskrifte van die verskillende dorpies en ‘n memorandum is later oorhandig. Die polisie was ook daar om net ‘n ogie oor alles te hou.

Van die probleme sluit in watervoorsiening, elektrisiteit, riolering, swak of onbegaanbare paaie asook ‘n te hoë persentasie van die begroting wat aan personeel-salarisse bestee word.

Van die inwoners het Vrydag gekla dat water ongereeld en op ongeskikte tye aan inwoners verskaf word. Een het luid oor die megafoon geskree: “Die water word sesuur in die oggend beskikbaar gestel. Dit is baie ongerieflik vir veral die ou mense. Teen eenuur is daar egter geen water beskikbaar nie.”

Dit het ook bekend geword dat miljoene rande spandeer is op water, maar dat normale watervoorsienig steeds ‘n probleem is.

Ander inwoners het vertel dat sommige dorpe se mense meer krageenhede kry. Hulle voel dat die KBM nie eerlk is nie en vir Garies as hoofdorp bevoordeel.

Elshia McNeill is ‘n bekende gemeenskapsvrou hier en een van die organiseerders. Volgens haar was die meeste van die 15 kleiner dorpies Vrydag teenwoordig.

“Die vreedsame optog het gegaan oor  al die gemeenskappe en is a-polities. Ons het die  griefskrifte aan die munisipale bestuurder oorhandig.”

Volgens haar gaan hulle nou wag en kyk wat die munisipaliteit binne ‘n maand hieraan gaan doen.

Volgens Benjamin Kriel van die Kharkams-gemeenskapskomitee sukkel hulle al baie lank om volhoubare en drinkbare water te kry. Hy het die optog as baie effektief beskou.

Die afgelope paar jare word die KBM gery en gerem deur swak bestuursbesluite, duur hofsake, yslike krag- en waterrekeninge en ongekende armoede weens werkloosheid, luidens verslae.

Hulle moes ook noodgedwonge ‘n ooreenkoms met Eskom aangaan, anders sou hulle krag periodiek afgeskakel word.

Leave a Reply