Skip to main content

𝗩𝗲𝗿𝘀𝗽𝗿𝗲𝗶𝗱𝗶𝗻𝗴 𝘃𝗮𝗻 𝗔𝗳𝗿𝗶𝗸𝗮𝗮𝗻𝘀

Vroeg in die 19de eeu het groepe van die Khoi-Khoi-stamme van die Kaapkolonie die gebied noord van die Oranje, dit wil sê die huidige Namibië, binnegetrek. Hulle was bekend as die “Orlams” of “Oorlams”. Dié benaming kom via die 17de-eeuse Nederlands van die Maleise 𝘰𝘳𝘢𝘯𝘨 𝘭𝘢𝘮𝘢 (𝘥𝘢𝘵𝘢𝘯𝘨), “iemand wat al lank gelede (na die Ooste) gekom het”. Dit het in Afrikaans die betekenis van “bedrewe”, “geleerd” en “uitgeslape” gekry.

Die Oorlams was met wit mense en weggeloopte slawe vermeng. Hul trek was deel van ’n algemene beweging van die Khoi-Khoin om so ver moontlik van die wit mense af weg te kom. Laasgenoemde het van die 18de eeu af oor die Olifantsrivier getrek, baie Khoi-Khoin verdring van hul woonplekke en Klein-Namakwaland in besit geneem.

Die Oorlams wat die huidige Namibië binnegetrek het, was Jan Boois se stam, die stam van Berseba, die stam van Gobabis, die Afrikaanderstam (“die strydlustige volk”) onder leiding van Jonker Afrikaner en heelwat later, in 1863, die Witboois. Afrikaans is dus dié gebied ingebring deur mense wat nie baie gesteld was op die wit sprekers van die taal nie. H Vedder, kenner van die voorgeskiedenis van Namibië, skryf dat “die Boere” nooit ’n goeie naam onder die inheemse mense van die gebied gehad het nie. “Dit was veral die Oorlams wat uit die slawetyd herinnerings bewaar het, en die Boere in ’n slegte lig gestel het.” Hulle het gevrees dat die Boere baas wou word van die gebied.

Verhoudinge met die Khoi-Khoin was een van die sake waaraan die eerste Britse goewerneur aan die Kaap, graaf Caledon, aandag moes gee. Daar was altyd die gevaar dat die Khoi-Khoin en die Xhosas kon saamstaan en die boere van hul plase verdryf. Caledon wou aan die rondtrekkery van die Khoi ’n end maak. Daarom het hy in 1809 ’n proklamasie uitgereik wat die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrika ’n duidelike beleid teenoor die Khoi-Khoin neergelê het. Hul stamhoofde sou nie in die vervolg erken word nie, en die Khoi-Khoin moes, net soos die wit mense, vaste woonplekke hê en die wette van die land gehoorsaam. Gevolglik mog Khoi-Khoi nie sonder verlof van ’n landdros of fiskaal van die een distrik na ’n ander verhuis nie. Elke Khoi-Khoi-man moes ’n pas hê, en wanneer hy langer as ’n maand by ’n boer moes werk, moes hy ’n huurkontrak opstel wat die landdros of fiskaal moes onderteken.

Weens klagtes wat hom van alle kante bereik het, het Caledon lt.kol. Richard Collins aangestel wat sake in 1809 behoorlik ondersoek het. Sy verslag was ondubbelsinnig. Algehele skeiding tussen wit en swart het hy as die enigste oplossing vir die grensmoeilikheid beskou. Dit sou die beste wees as die gebied tussen die Keiskamma- en die Visrivier onbewoon bly. Hy het ook aanbeveel dat alleenlik die Morawiese Genootskap onder die Khoi-Khoin moes kon werk. Die Morawiërs het in 1808 verlof gekry om nog ’n sendingstasie by Mamre op te rig. Maar Caledon wou nie ’n openlike stryd met die Londense Sendinggenootskap hê nie, en die sendelinge J Read en JT van der Kemp van dié genootskap het hul werk op Bethelsdorp voortgesit.

#Afrikanerjoernaal #JaapSteyn #Afrikaans #Oorlams

Leave a Reply

error: Content is protected !!